September 24, 2021

Tot hier toe en nie verder nie, sê DA oor misdaad

Dit is tyd om aksie te neem teen misdaad, sê Andrew Louw, DA-premierskandidaat in die Noord-Kaap. Dit volg nadat ’n tweede tiener in die afgelope maand as gevolg van misdaad dood is.

“Net in verlede week het die stad getreur nadat Tshepiso Thompson (16) vir die klere aan sy lyf en die skoene aan sy voete doodgesteek is. Dit kom ’n maand nadat Boniface Ndlovu, ’n Gr. 12-leerder, vir sy matriekafskeidskoene vermoor is. Albei die jongmanne het so baie potensiaal gehad. Hulle familie het soveel hoop gehad vir hulle. Hulle ontydige dood is onregverdig,” verduidelik Louw.

Voorts vra hy: “Hoe het misdaad hierdie vlak bereik waar kriminele in die strate heers? Waar jongmense oortreders en slagoffers van misdaad word?Waar is ons basiese veiligheid?”

Kimberley is nie meer rustig of veilig nie

Louw sê: “Kimberley en die Noord-Kaap is nie meer so rustig of veilig soos dit lank gelede was nie. Meer as 50% van die Noord-Kaap glo die polisie sal twee uur na ’n noodoproep opdaag, of nooit opdaag nie. Dit is kommerwekkend. Daar is nog te veel polisiekantore wat nie genoeg opgeleide personeel, voertuie, veiligheidstoerusting of ingerigte infrastruktuur het om die daaglikse misdaad behoorlik te bekamp nie.”

Groot veranderinge indien Louw premier word

Indien Louw premier word, sê hy, hy sal nie huiwer om gemeenskapsveiligheidwetgewing in te bring om misdaad vas te vat nie.

Die wetgewing sal die volgende aspekte raak:

  • Verbetering van die funksies van die LUR van veiligheid om polisiëring meer effektief te maak.
  • Verbetering aan die monitering, oorsig en assessering van die polisie.
  • Riglyne vir die vestiging van ‘n gemeenskapspolisieforum en -rade.
  • Akkreditasie en ondersteuning, insluitend befondsing vir buurtwag-organisasies.
  • ’n Geïntegreerde kommunikasiestelsel tussen provinsiale en nasionale polisie.
  • Die stigting van ’n kantoor vir die provinsiale ombudsman van die polisie om ondoeltreffende dienslewering te ondersoek.
  • Die provinsiale kommissaris van die polisie sal verplig word om aan die LUR van veiligheid en provinsiale wetgewer te rapporteer.
  • Instelling van prosedures om ’n mosie van wantroue teen die kommissaris in te dien.
  • Die uitvoerende hoof van munisipale polisie sal verplig word om aan die LUR van veiligheid en provinsiale wetgewer te rapporteer.
  • Oplegging van sanksies insluitend boetes en tronkstraf indien hierdie wetgewing nie gehoorsaam word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *