Driejarige se fratsongeluk met fiets vermoedelik windbuks-skoot

Nina de Villiers, die driejarige dogtertjie wat Sondag 10 Februarie oorlede is nadat sy met haar fiets in haar ouerhuis geval het, is na bewering met ‘n windbuks geskiet.

So beweer die pediater, Willem Smit, wat Nina in die MediClinic Durbanville net noord van Kaapstad behandel het, aan FiND iT.

Smit, oorspronklik van Parys in die Vrystaat, is al 21 jaar ‘n pediater by MediClinic in Durbanville.

Volgens Smit het die koeëltjie haar net onder haar regtersleutelbeen getref en is die koeël toe na links, afwaarts, waar dit haar hart getref het.

Met Smit se aankoms by ongevalle, het die traumadokter aan hom gesê Nina het van haar fiets afgeval en ‘n fiets se speek haar moontlik deurboor het. Hy het toe al vermoed dat die geval waarmee hulle te doen het, ‘n skietwond is en nie ‘n besering deur ‘n fiets nie.

“Ek sê dus nie dat Nina nie van haar fiets afgeval het nie. Daar is geen bewyse nie. Maar die fiets is nie die rede vir haar dood nie.”

“As die mediese personeellede geweet het sy is geskiet, sou hulle haar meer doeltreffend behandel het,” beaam Smit.

“Dit is wel nie onmoontlik dat sy op die fiets was nie en dat sy dalk geskiet is toe sy op haar fiets gery het,” voeg hy by.

Smit maak dit duidelik dat hy nie die een was wat met die storie of vermoede koerante toe is nie.

“Ek het op 10 Februarie ‘n inskrywing op Facebook gemaak oor hoe sleg dit vir ons as dokters en verpleegpersoneel is om met sulke gevalle te werk. Om geroep te word na ongevalle, ‘n kind se lewe te moet red en dan nog boonop vir ouers die slegte nuus te moet meedeel dat die kind dit nie gemaak het nie, is terrible.”

Binne ‘n paar uur het honderde mense op Smit se inskrywing reageer. Een van die mense was ‘n tannie van Amerika wat na Nina verwys het en so het die storie in die media beland.

“Ek het nie die inskrywing op Facebook geplaas met ‘n verbintenis tot Nina se voorval of dat dit na haar moet verwys nie. Vir my het dit gegaan om mense bewus te maak van hoe traumaties sulke gebeurtenisse is. Nina se geval het my wel getrigger om die inskrywing te maak.”

Toe Smit weer ‘n inskrywing op Facebook plaas en mense waarsku oor windbukse, was die tonge los. Hy het die inskrwying op sy Facebook-blad geplaas net nadat Nina se ouma met die media gepraat het, maar nie eenkeer na Nina verwys nie.

“Terwyl dit hoogs onwaarskynlik is dat ‘n fietsbriekhandvatsel sal breek en ‘n diep wond in die bors veroorsaak, is dit aan die ander kant baie waarskynlik dat ‘n windbuks wat op ‘n kort afstand afgevuur word na die bors van ‘n kind of ‘n volwassene tot die dood kan lei,” lui die inskrywing.

Volgens hom het haar ouers, Nikie en Natasha, begin rondtrap toe hy hulle gevra het wat regtig gebeur het.

“Nadat ek aan hulle die slegte nuus meegedeel het dat Nina oorlede is, het ek hulle gevra of daar enige skerp voorwerpe betrokke was wat in haar kon steek. Ek as dokter het nodig om te weet wat met haar gebeur het.”

Nina se ouers het aan Smit gesê dat daar geen voorwerpe was wat in haar kon steek nie. “Ek het toe aan hulle meegedeel wat ek dink die oorsaak kon wees.” Smit sê nog voor hy enigsins van ‘n windbuks gepraat het, het Nikie blykbaar aan hom gesê dat daar ‘n windbuks in die vertrek was waar die voorval plaasgevind het.


Volgens Rapport het Smit ook die patoloog wat die lykskouing gedoen het in kennis gestel oor sy vermoede. Smit het nog nie die patologieverslag gesien nie, al is dit al afgehandel.

“Natasha, besef jy hoe jou kind dood is?” was Smit se boodskap aan haar nadat sy hom omstreeks 20:00 daardie Sondagaand bedank het in ‘n boodskap vir alles wat hy gedoen het en dat hy hulle dogter probeer red het.


Haar antwoord aan Smit was dat sy “alles uitgeblok het.” Waarop hy aan haar gestuur het: “Ek dink jou kind is geskiet met ‘n pellet gun.

Twee dae na die ongeluk het Nina se ouma, Eldie Marais, aan Netwerk24 en Die Burger gesê dat Nina ‘n ongeluk met haar fiets gehad het toe sy in haar ouerhuis, op ‘n plaas, om die tafel gery het en toe geval het waar die remhandvatsel in haar borskas gedruk het.

Volgens Smit het Natasha hom na die berig kom sien, in ‘n poging om te kom verduidelik wat gebeur het. Hy het aan haar gevra hoekom haar weergawe van die voorval verskil van Marais s’n wat sy aan die media vertel het.


Sy het aan hom gesê dat “almal geskok was.” Sy het toe ook aan Smit gesê dat daar ‘n windbuks in die vertrek was waar Nina was.

Net na Smit se ontmoeting het Nikie, ‘n wynmaker op die familieplaas Morgenster, hom gebel en gesê dat hy buite die huis en sy vrou in die studeerkamer was ten tye van die voorval.

Marais het na bewering ook vir Smit kom sien oor die voorval.

Volgens Rapport het hy gesê dat hy eenhonderd persent seker is dat die kind geskiet is. “Presies wat gebeur het, is vir my ‘n mystery.

Volgens Rapport het André Traut, polisiewoordvoerder, gesê dat die omstandighede rondom Nina se dood ondersoek word. Hy het nie op navrae van Rapport reageer oor die bewering dat daar beslag gelê is op ‘n windbuks wat aan Nikie de Villiers behoort nie.

Dr. WIllem Smit
Nikie, Natasha en hul drie dogters.

Facebook
Nina

Facebook

1 thought on “Driejarige se fratsongeluk met fiets vermoedelik windbuks-skoot

  1. Ek as windbuks eienaar is baie teleurgesteld oor hierdie voorval. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat windbukse lankal nie meer speelgoed is nie. Ek skiet internationaal skyf met my gewere in verskillende dissiplines, as ‘n sport. Ek verstaan nie hoe kan mense ‘n gelaaide wapen, luggeweer of nie oop en bloot laat rondstaan waar daar kinders in die huis speel en rondloop nie. Dit is uiters onverantwoordelik. Al my windgewere is in twee kluise waarvan net ek ‘n sleutel het. As ek nie so sleg gevoel het oor die kind wat die ouers verloor het nie sou ek sterk daarop aangedring het dat hulle aangekla word. Ek kan slegs ‘n beroep doen op ouers om nie hulle kinders met windgewere te laat speel as daar nie ‘n volwasse verantwoordelike persoon by is nie. Vuurwapens is nie gevaarlik nie. Die mense wat dit verkeerd hanteer is gevaarlik. Vuurwapens skiet nie sommer mense nie, maar mense gebruik dit om mekaar te skiet met opset of per ongeluk as dit nie reg hanteer word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: