‘Dienslewering ly wyl Sol geld mors’

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die tertafellegging van die jaarlikse prestasieverslag in ‘n raadsvergadering van die Sol Plaatje munisipaliteit vandag bevestig dat 2023 grootliks verspil was, met min tot geen vordering op kritieke diensleweringskwessies.

Rdl. Chris Whittaker het gesê: “Befondsing wat beskikbaar gestel word om hierdie kwessies aan te spreek, word só wanbestuur dat broodnodige geld aan die staatskas teruggegee moet word. Die nasionale departement van minerale hulpbronne en energie het Sol Plaatje reeds in Desember 2023 gewaarsku dat fondse vir elektrifiseringsprojekte moontlik teruggegee moet word. Dit is omdat die munisipaliteit versuim om die geld te bestee en nie behoorlike projekbestuurprosesse implementeer nie.”

“Dit is ‘n skreiende skande dat ‘n munisipaliteit wat grootliks deur departementele toelaes befonds word, versuim om dan dié geld te gebruik sodat dienslewering kan verbeter.”

“Dit is ook ‘n skreiende skande dat die einste munisipaliteit nie beter sorg uitoefen oor inkomstebronne soos water- en elektrisiteitsverkope nie. Elektrisiteitsverliese beloop 29% en waterverliese beloop 64%. Terwyl die munisipaliteit raai dat meer as R275.578 miljoen se inkomste verlore gegaan het, kon die ouditeurgeneraal nie die ware omvang van verlore inkomste bepaal nie. Hy het ook debiteure geïdentifiseer wat nie vir elektrisiteit- of waterverkope aangeslaan word nie.”

“Dit is dus geen verrassing dat vanjaar se ouditverslag meer kwelpunte as voorheen uitwys nie. Die styging van 6 na 8 kommerwekkende kwessies wat deur die ouditeur-generaal geïdentifiseer word, bewys dat swak bestuur elke aspek van die munisipale administrasie besmet.”

“Die DA in die raad sal daarop aandring dat die nodige stappe geneem word om projekbestuur te verbeter. Dit sluit stappe in teen amptenare wat nie hul pligte uitvoer nie.”

“Nóg die premier nóg die provinsiale departement van samewerkende regering kon sake in Sol Plaatje beredder. Die enigste manier waarop inwoners Kimberley kan red, is deur te registreer om te stem.”

*PERSVERKLARING

Lees ook: Dangerous drinking water in SA -can we turn the tide?