Magareng- munisipale vloot in ‘intensiewesorgeenheid’

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die verdoemende bevindinge van ‘n assessering van Magareng-munisipaliteit se vloot aan die LUR van COGHSTA ingedien vir ‘n dringende ondersoek.

Die assessering, wat laat verlede jaar gedoen is, het aan die lig gebring dat slegs twee uit vyftien van die munisipaliteit se voertuie wat geassesseer is, in werking is.

‘n Opsomming van die bevindinge is as volg: 

1. Nie een van die drie rioolvragmotors het ‘n geldige lisensie nie. Die ou vragmotor se lisensie het op 31 Augustus 2022 verval en die nuwe trok se lisensie op 31 Oktober 2023. Die laasgenoemde is die enigste werkende rioolvragmotor. Dit word werksdae net tot 13:00 gebruik, maar dit word gereeld gebruik vir oortydwerk oor naweke. Onderdele vir die twee stukkende rioolvragmotors, insluitend batterye, suigpype en voorligte, is onderskeidelik in 2022 en in Maart 2023 bestel. Geen onderdele is tot op hede ontvang nie en albei vragmotors is nog nie deur ‘n padwaardigheidstoets nie. 

2. Die groot vullisvragmotor het in September 2023 gebreek. Dit was na ses weke herstel en is toe weer in werking, maar het weer in Desember 2023 gaan staan weens ‘n stukkende ratkas. Dit is steeds buite werking. Die klein vullisvragmotor staan sedert 2021 en ten spyte van die pomp wat vervang is, kort dit steeds talle onderdele om weer in werking te kom. 

3. Die TLB benodig hidrouliese stuurstangkoppeling van minder as R600. Die onderdele is in April 2023 bestel. Tot op datum is niks ontvang nie.

4. Die padskraper is in 2022 as ‘n skenking van Frances Baard Distriksmunisipaliteit ontvang. Dit is ingehandig vir herstelwerk en bly by die onderneming, aangesien geen betaling gemaak is nie.

5. Die nuwe wipbak is gelisensieer, maar is weens ‘n administratiewe fout steeds sonder ‘n nommerplaat. Dit is sedert ontvangs in 2022 nie in werking nie.

6. Ten opsigte van die diensbakkies het die Nissan-bakkie vir die departement van waterwerke ‘n gasket geblaas. ‘n Bestelling is in 2022 geplaas, terwyl sy bande en diff op ‘n ander voertuig gebruik is. Dit staan sedert 2022. Die bande van die Nissan-bakkie vir die elektriese eenheid is op ‘n ander voertuig gebruik. Remme en suspensie is in April 2022 bestel en uiteindelik ontvang en geïnstalleer in September 2023. Die een Nissan bakkie se diff is aangepas vir die rioolafdeling se Isuzu-bakkie. Die oorspronklike diff was vir ‘n hele jaar by ‘n handelaar, maar daar is nooit daarvoor betaal nie en dit is nooit teruggestuur na die werkswinkel nie. Bande en ander onderdele is in Julie 2022 bestel, maar nooit uitgevoer nie.

7. CV Joints, ‘n diensstel, bande en ander onderdele is tussen Julie en September 2022 vir die Volkswagen-kombi bestel, maar die bestellings is ook nooit uitgevoer nie.

8. Die Chana-bakkie en die Nissan-bakkie se enjins het onderskeidelik in November 2021 en vroeg in 2023 opgepak. Terwyl onderdele vir die Chana-bakkie in Julie 2022 bestel is, is die bakkie sedertdien buite werking. Herstelwerk vir die Nissan-bakkie is ook nooit geïmplementeer nie.

9. Bande, wiellaers en lemme vir die ry-grassnyer is in September 2022 bestel. Niks is tot op hede ontvang nie.

Die assesering ontbloot die kritieke toestand van Warrenton se munisipale voertuie as gevolg van die munisipaliteit se langdurige versuim om behoorlike vlootbestuur te verseker. ‘n Gebrek aan toegewyde befondsing en swak verkrygingsbestuurprosesse, vertraag ook herstelwerk en die aflewering van onderdele omdat bestellings nie gemaak word nie of bestellings nie uitgevoer word nie. 

Gegewe Magareng-munisipaliteit se onwilligheid om aandag aan die ineenstortende vlootkrisis te gee, het die DA ons bevindings na die LUR van samewerkende regering, Bentley Vass, verwys vir ‘n hoërvlak-ingryping.

Die munisipale vloot is ‘n bate waardeur dienste gelewer moet word. Die vloot is egter toegelaat om in duie te stort, met dienste in Magareng wat die afgelope twee jaar geleidelik tot stilstand gekom het.

*PERSVERKLARING

*DIE PERSVERKLARING IS BETAAL DEUR DIE GENOEMDE POLITIEKE PARTY

Lees ook: DA beywer vir veiliger ruimtes na wrede Brandvlei-moord