*PERSVERKLARING
Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement se versuim om genoeg personeel aan te stel vir sogenaamde moderne hospitaalfasiliteite lei tot swak gesondheidsorg in die provinsie.
Dit is bevestig tydens ‘n oorsiginspeksie by die omstrede De Aar-distrikshospitaal, waar ‘n onderbemande gesondheidswerkmag ‘n drastiese impak het op die gehalte van sorg wat by die fasiliteit asook in die distrik verskaf word.
Die De Aar-hospitaal het in 2021 onder die kollig gekom ná bewerings dat pasiënte alleen by die fasiliteit gelaat is terwyl personeellede hul stasies verlaat het. Die destydse hoof van die departement het hom destyds daartoe verbind om ‘n taakspan te stig en ‘n ondersoek na hierdie aangeleentheid te onderneem.
Twee jaar later het nie veel verander nie en personeeltekorte bly ’n baie ernstige probleem. Dit is ten spyte daarvan dat Pixley ka Seme as ‘n toetssentrum vir die Nasionale Gesondheidsversekering gebruik is en oor die jare bykomende befondsing ontvang het om kapasiteit te versterk.
‘n Tekort aan personeel by die fasiliteit word weerspieël deur tekorte in die distrik as gevolg van vakante befondsde poste wat maande lank nie gevul is nie weens oponthoude in die prossesse in die provinsiale menslike hulpbronne (HR) afdeling.
Benewens personeeltekorte, ondervind die hospitaal ook ‘n drie maande lange tekort aan chroniese medikasie omdat noodsaaklike medisyne uit voorraad is. Die DA is bewus van dalende beskikbaarheid van medisyne regoor die provinsie weens uitstaande rekeninge wat nie deur die gesondheidsdepartement vereffen word nie.
Daar is verder ‘n gebrek aan politieke wil om praktiese oplossings wat die potensiaal het om dienslewering by die hospitaal aansienlik te verbeter, te implementeer.
Die DA het weer gesien hoe die gebrek aan voldoende watertoevoer, wat net voldoende is vir die spoel van toilette en storte, steeds dienste raak. Die DA vra al maande lank dat die twee munisipale boorgate wat die munisipaliteit aan die departement beskikbaar gestel het, deur die departement in werking gestel word, Ons het voorheen ‘n beroep op die departement gedoen om vir die nodige pompe te begroot. Terwyl ons vandag verneem het dat befondsing wel beskikbaar gestel is, beweer die departement nou dat dit op ‘n amptelike brief wag, wat die gebruik van die boorgate sal bemagtig.
Vertragings in aanstellings, die verskaffing van medikasie en die oplossing van maklik regstelbare probleme, soos aktivering van boorgate, vertraag lewensreddende gesondheidsorgvoorsiening aan die mense van Emthanjeni.
Die DA sal ons kommer oor gesondheidsorg by De Aar-hospitaal, en regdeur Pixley ka Seme, met LUR Lekwene Maruping opneem. Ons sal ook ondersoek instel na die uitgerekte menslike hulpbronprosesse wat gesondheidsdienste dwarsdeur die provinsie versmoor.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Drie gevangenes ontsnap deur dak van polisiestasie in Limpopo



