Drie jaar sedert die moord en verkragting op die 19-jarige Emerencia Roman (19) is ‘n verdagte (27) verlede week, Woensdag 31 Augustus, omstreeks 20:08, in hegtenis geneem.
Roman, ‘n oud-leerder van Hoër Tegniese Skool Eden, se liggaam is Maandagoggend 9 Desember 2019 omstreeks 06:00 deur ‘n verbyganger in bosse in Kleinkrantz gevind.
Die laaste keer wat sy gesien is, was die vorige Sondagaand by ‘n sosiale byeenkoms by ‘n huis in die omgewing.
Sy het drie steekwonde aan haar nek gehad en was ook wreed verkrag.
Die verdagte het Maandagoggend 5 September in die George-landdroshof verskyn.
Volgens ‘n verklaring deur die polisie was die saak van die rol geskrap omdat die voorgeskrewe 48 uur waarbinne die verdagte na sy arrestasie voor die hof gebring moes word, volgens die landdros reeds op Vrydag 2 September verstryk het. Die verdagte was dus langer in aanhouding as die maksimum voorgeskrewe tyd.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê
die ondersoekbeampte het die reg gehad om die verdagte eers Maandagoggend voor die hof te bring.
“Aangesien die voorgeskrewe 48 uur waarbinne hy [die beskuldigde] voor die hof gebring moes word eers na gewone hofure op Vrydag 2 September verstryk het omdat die beskuldigde laat Woensdagaand in hegtenis geneem is, was dit heeltemal aanvaarbaar om die verdagte op Maandag 5 September ingevolge artikel 50(1)(d)(i) van die Strafproseswet, voor die hof te bring.
“Die landdros was egter van ‘n ander siening en het die saak van die hofrol geskrap, wat veroorsaak het dat die beskuldigde uit aanhouding vrygelaat is,” sê Ntabazalila.
Die beskuldigde is kort ná sy vrylating op dieselfde aanklagte, dié van moord en verkragting, in hegtenis geneem.
Hy het die volgende dag Dinsdag 6 September weer in die hof verskyn waar die saak tot 3 Oktober uitgestel is.
Die beskuldigde het aangedui dat hy nie ‘n borgtogaansoek wil bring nie.
Volgens die polisie mag sy identiteit nie bekendgemaak word alvorens hy nie gepleit het nie en omdat dit ‘n seksuele misdryf is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



