Trane en note rol by finale loodsing van nuwe party

Deel hierdie storie / Share this story

Louis Liebenberg sê oorwinning lê nie by die stembus nie, maar in jou hart. In jou liefde vir jou medemens.

Die afgelope naweek het die NEF tydens ‘n emosiebelaaide loodsing sommer harde kontant ook uitgedeel.

Die nuwe party op die horison is die National Freedom Fighters (NEF) wat Saterdag op Port Nolloth hulle verkiesingsloodsing afgesluit het.

Hier het Dawid Markus, die president, eers die party se ontstaan en toekomsplanne uitgespel. Daarna het Louis Liebenberg, hoofbefondser van die party, ‘n emosionele toespraak gelewer. Hy het gesê:

. Andrew Cloete, as hul sekretaris-generaal, spreek die NEF-lede en -ondersteuners toe. Foto: Isaac Cloete

“Ons kan geen politieke loopbaan aanpak nie sonder die Almagtige God van hemel en aarde. As ons met die  regering wil praat, moet ons een boodskap praat. En dit is een van versoening en liefde tussen mense. Ons moet vandag selfs die ANC liefhê. Of vir Julius Malema, want hulle is mense. Maar die eenheid bestaan net in Jesus Christus.”

Volgens hom is daar geen probleem as mense ryk is nie, want dit is God se seëninge. Die probleem is egter as ryk mense alles vir hulleself hou. Hy het ook vertel dat oorwinning nie by die stembus lê nie, maar in jou hart. In jou liefde vir jou medemens.

Hy het ten slotte vertel dat die NEF vir vryheid van hulle mense, die onderdruktes veg. En dat die NEF oor Christenskap gaan en nie oor wen of verloor nie.

As ‘n bewys dat hy ernstig was oor wat hy gepredik het, het hy verwys na tannie Dina Adonis. Sy is ‘n vrou van Komaggas, wat byna haar hele huis in ‘n brand verloor het. Liebenberg het aangebied om aan haar R10 000 te skenk.

Die geld is in ‘n plaaslike hardewarehandelaar op Springbok se rekening inbetaal. Tannie Dina kan nou gerieflik en tydsaam boumateriaal aanskaf om haar huis te herstel.

Tannie Dina het hartroerend gesê: “Ek is baie bly vir die ‘organisasie’ wat nou namens die delwers praat. Daarvoor sê ek dankie. Ek bid vir julle en vra en hoop dat Port Nolloth se delwers julle ook sal ondersteun. Julle het nou ‘n stem wat vir julle kan praat. Die diamante behoort aan die Namakwalandse mense, maar baie delwers gaan onwettig dood.”

Daar was selfs kindertraantjies van blydskap toe van hulle beertjies ontvang het. Die 40 pragtige beertjies is spesiaal en met groot moeite gebrei deur die bejaarde tannie Joey Fourie.  

Markus glo dat hulle goeie en harde veldwerk onder kiesers gedoen het. Alles hang nou van 1 November af as hulle hul kruisies moet gaan trek.