Mediclinic het verpligte inentings vir al sy werknemers aangekondig. Die verpligte inentingsbeleid het vandag ingetree.
Tertia Kruger, korporatiewe kommunikasiebestuurder, sê die maatskappy het dié “beginselbesluit” geneem vir diegene wat in alle Mediclinic-hospitale, kantore en filiale in Suid-Afrika, Namibië en Suider-Afrika werk.
“Mediclinic se doel is om ‘n veilige en positiewe omgewing te skep vir die behandeling van sy pasiënte, sowel as vir sy werknemers, geassosieerde dokters, gesondheidswerkers en ander diensverskaffers.”
Mediclinic verklaar dat hulle sterk voel dat dit die regte ding is om die verpligte inentings bekend te stel, aangesien die pandemie ongekende uitdagings vir die werksplek veroorsaak het. “Ons staan voor ‘n wêreldwye krisis wat daadwerklike optrede vereis,” sê Kruger.
Faktore wat in ag geneem is by die neem van hierdie besluit, sluit in die waarskynlike duur van die Covid-19-risiko, die aard van gesondheidsorg as ‘n frontbedryf, die aard en erns van die virus, die waarskynlikheid dat die moontlike virus in individue voorkom kan word, die moontlike skade aan pasiënte, die beskikbaarheid van Covid-19-entstowwe en hul vermoë om die mutasie van die virus te bekamp.
Die verpligte inentingsbeleid sal op 1 Oktober 2021 geïmplementeer word en in ‘n gefaseerde benadering uitgerol word met ‘n vervaldatum vir verpligte inenting van 1 Februarie 2022, wat beteken dat alle werknemers teen hierdie datum volledig ingeënt moet wees.
Sy het bygevoeg dat Mediclinic kennis dra van die godsdiens- en kulturele oortuigings van sy werknemers.
“Mediclinic sal probeer om die regte van sy werknemers te balanseer deur redelike uitsonderings te neem vir diegene wat nie wil inent nie.”
Lees die volledige persverklaring hier.



