Die Demokratiese Alliansie (DA) kan vandag onthul hoe ‘n ANC-munisipaliteit probeer het om hul diensleweringsmislukking toe te smeer.
Die DA het die bestuur van die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington in die Noord-Kaap uitgevang oor sy versuim om die groeiende agterstand te bestuur van diensvoertuie wat herstel moet word.
Terwyl die DA herhaaldelik die buitensporige agterstand in voertuigonderdele beklemtoon het, het die munisipale bestuurder ontken dat die agterstand enigsins bestaan en selfs die DA daarvan beskuldig dat hy stories opmaak.
Maar foto’s van ’n hommeltuig geneem oor die erf van die munisipale motorhuis, vertel egter die ware verhaal – ’n verhaal van ANC-bedrog en ineenstorting. Daar kan gesien word dat ’n aantal diensvragmotors rondstaan, terwyl dienslewering in en om Upington steeds verder agteruitgaan. In sommige gevalle hou selfs pap bande, wat maklik en vinnig is om reg te maak, dienslewering op – soos die geval met ’n vullisverwyderingsvragmotor.
In die meeste gevalle berus die kern van die probleem by munisipale amptenare wat in die verkrygingseenheid werk, maar nie geskikte vaardighede het nie. Dikwels dra hulle geen kennis van voertuie en onderdele nie. In der waarheid word rekwisisies vir onderdele eenvoudig nooit afgehandel nie. Vroeër hierdie maand het die agterstand van uitstaande rekwisisies reeds op 900 gestaan!
In plaas daarvan dat die munisipaliteit die DA se voorstel gebruik dat mense met die nodige voertuigkennis in die verkrygingseenheid aangestel word, vou die munisipaliteit eerder sy arms terwyl die agterstand verder groei en dienslewering tot ’n stilstand kom.
Die enigste haalbare opsie nou is dat inwoners van Dawid Kruiper aanvaar dat die ANC misluk het, en hulle by die stembus uitskop en vervang met ‘n bekwame DA-regering.
Die DA het ’n plan, soos uiteengesit in ons manifes, om dienste te herstel. Die keuse is maklik: ANC-munisipaliteite en die verdere verniel van ons dorpe waarvoor hulle eenvoudig nie omgee nie; of DA-munisipaliteite wat dienste implementeer en dinge gedoen kry om ‘n beter toekoms vir almal te verseker.
*Persverklaring
Lees ook: Lockdown, State of Disaster ‘unjustifiable’ – Steenhuisen
Volg FiND iT hier.



