Afrikanerdorp Eureka deur Valke binnegeval: beleggingskemas word ondersoek

Deel hierdie storie / Share this story

Die Valke het onlangs ‘n private Afrikanerdorp, Eureka, “ongevraagd en met mening” binnegeval. Só voel die inwoners van die private Afrikanerdorp, buitekant Garies, in Namakwaland. Dit nadat die Valke met gewere en al onverwags hier kom toeslaan het.

Blykbaar het van die manslede van die Valke private besittings soos vroue-onderklere voor kinders en vroue omgedolwe. Op soek na bewyse.

Moontlike bedrog, diefstal, geldwassery

Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, het hulle op vyf huise hier toegeslaan. Hulle beweer dat daar moontlik bedrog, diefstal en geldwassery was in twee beleggingskemas van twee maatskappye. Dié was ‘n behuisings- en aandele-skema. “Daar word beweer dat beleggers in die behuisingskema ongeveer R12 mil. en in die aandele-skema, ongeveer R80 mil., verloor het,” volgens Mnisi.

Die Valke het op rekenaars, dokumentasie, hardeskywe, en geheuestokkies van die maatskappye beslag gelê.

Volgens Deon Harmse, ‘n inwoner hier, was daar ongeveer 52 lede van die Valke en polisie in die gebied. By sy huis was vyf voertuie.

VOLG FIND IT HIER.

Afrikanerdorp Eureka – aandele glo wettig besit

Adriaan Nieuwoudt eienaar van Eureka Bpk Ltd. het gesê dat die Valke die bal ver mis slaan. Volgens hom het niemand aandele in die, maatskappy, NFC, gekoop nie.

“Dit was aandele wat NFC wettig in die maatskappy, Eureka Bpk Ltd. besit het. Ek het dit teen 10 sent elk aan die lede verkoop. Hulle het dit dan weer teen hul eie prys onder mekaar verkoop en het goeie geld
gemaak.”

Ander man is skurk

Hy het voorts gesê dat ‘n voormalige dorpsbestuurder, wat ook die boukontrakteur en hardewarde eienaar, op die Afrikanerdorp Eureka was, die skurk in die verhaal is, wat ondersoek moet word.

“Ons was genoodsaak om hom in November 2019 af te dank na onreëlmatighede ontdek was. Daarna het hy homself as vyand van Eureka verklaar en klagtes teen myself,die maatskappy en al die amptenare van
Eureka gaan lê.

“So, die geveg met my en Eureka is nie sodanig omdat hy kwaad is nie. Dis weens die bedrog wat hy gepleeg het en nou moet keer dat hy vervolg word.”

Nieuwoudt het verder driftig gevra: “Is hierdie buitengewone optrede van die Valke ‘n aanval op die
blanke-ras, terwyl die verwoesting van die land deur ander groepe gelate aanvaar word?”

Valke het “goeie saak”

Dié voormalige dorpsbestuurder (aan FiND iT bekend) het verkies om anoniem te bly omdat die Valke nog die sake ondersoek. Volgens hom gaan die waarheid tog uitkom, want die Valke het ‘n “goeie saak”.

Volgens Rufus Beukes, munisipale bestuurder van die Kamiesberg munisipaliteit, verwelkom hulle die Valke se ondersoek. Hy het gesê: “Daar word blykbaar n onwettige aandele-skema bedryf volgens gerugte
wat al lank die rondte doen.”

* Dit het intussen aan die lig gekom  dat die direksie van Eureka hul regsverteenwoordiger opdrag gegee het om klagtes teen die voormalige dorpsbestuurder te lê.

LEES NOG ARTIKELS HIER.

LEES OOK: SLAGGATE EIS LEWENS