‘Jan Kempdorp SAPD omskep in taxidiens’

Deel hierdie storie / Share this story

Na die sluiting van die aanhoudingselle van die polisiestasie op Jan Kempdorp meer as ‘n jaar gelede, doen die Demokratiese Alliansie (DA) ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD), die Noord-Kaapse ministerie van veiligheid en die departement van openbare werke om dringende instandhoudingswerk by die fasiliteit te doen.

Dit is volgens Phokwane musipaliteit


‘Die verlammende impak wat die gebrek aan beskikbare aanhoudingselle op polisiëring het, het weer aan die lig gekom toe ek gepoog het om die stadige vordering van ‘n verkragtings- en moordsaak, van ‘n bejaarde inwoner van die dorp, na te gaan.’


‘Dit is inderdaad ontmoedigend dat een van die twee polisievoertuie wat Jan Kempdorp bedien, gebruik moet word om verdagtes vanaf aanhoudingselle in Hartswater, Windsorton en selfs Christiana in die Noordwes, na die plaaslike landdroshof te vervoer.’

‘Die bykomende petrolkoste is ‘n vermorsing van beperkte finansiële hulpbronne. Die buitensporige reis is ook ‘n misbruik van mannekrag, aangesien polisiebeamptes meer soos taxibestuurders moet optree in plaas van misdaadbevegters. Die hele situasie laat verder net een operasionele voertuig beskikbaar vir polisiëring en ondersoek na misdaad in en om die stad.’


‘Dit is geen wonder dat misdaad in hierdie gebied hoog bly nie en dat baie geweldsmisdade nooit opgelos word nie.’


‘Die DA het verlede jaar die feit dat die polisie in hierdie gebied nie die oorlog teen misdaad wen nie, blootgelê. Tog het SAPD nog geen aksie geneem om te verseker dat die polisie beter in staat is om ‘n 24-uur diens te bied nie, veral in noodgevalle.’


‘Die DA sal skriftelike versoeke vir ingryping aan die LUR van veiligheid, die provinsiale polisiekommissaris en die minister van openbare werke, wie se departement verantwoordelik is vir die fisiese instandhouding van SAPD-geboue, indien. Dringende werk aan die aanhoudingselle is nodig, insluitend die koppeling van elektrisiteit en die aanspreek van veiligheidskwessies wat gevangenes vroeër in staat gestel het om te ontsnap.’


‘Terselfdertyd sal die DA vra dat die toekenning van nuwe polisievoertuie geprioritiseer word om die vervalle voertuie, wat oor die 300 000 kilometer op die klok het en meer tyd in werkswinkels deurbring as om misdadigers te jag, te vervang.’


‘Die belangrikheid van die instandhouding en opgradering van polisie-infrastruktuur in pogings om gemeenskappe veilig te hou, moenie misgekyk word nie. ‘

*persverklaring