“Glamarous-Hotmess” Mamma

Deel hierdie storie / Share this story

Uiteindelik! Nooit as te nimmer gedink ek gaan hier uitkom nie.

Na alles wat in hierdie fenomenale 2020 gebeur het? Werkloos, kosloos, akademieloos, moedeloos, breinloos?

Hier sit ek en wag ek vir my kinders om huis toe te kom van hul laaste skooldag vir Covid-Riller 2020. Picture this…..

Hulle laggende, skril, opgewonde stemme, hoorbaar nog voor hul die parkeerarea ingekom het.  Hul vibe wat die Huskies aansteek, en dan skree hulle in hondetaal terug: “Kom Nou!”

My prentjie is vergesog…  Ek word begroet met ’n huilende meisiestem en Boeta wat sê: “Dis okay, Sussa. Hou net asseblief op huil!”

Alles binne-in my Mamma-lyf raak yskoud!! Al my rekmerke begin gloei, kompleet soos ’n twighligt scene, soos wat die yslagies vorm op hulle. My 2020-brein skop in!!! Sien, ek is ’n Weegskaal, ’n over-lover, over-achiever, over-believer en vir seker tot my my spyt ’n over-thinker.

“HERE, asseblief nee!!!” Begin ek hardop bid. Wat het gebeur? Het hul hul pa gesien? (Sien vroeër die oggend was ek en hul pa in die hof. Onderhoudstwis wat hy voel onnodig is om te betaal, want ’n oproep en ’n naweekkuier een keer in drie maande is genoeg!)

Het sy seergekry? Het sy deurgeloop onder die ongenadige tonge van ander kinders? Het sy ’n blank geslaan terwyl sy geskryf het?

My dogter, spitting image van my, kroontjie tot toontjie. Ek en sy is die Suid-Afrikaanse weergawe van Lorelei en Rory Gilmore van die gewilde TV-reeks Gilmore Girls.

Sy kom ingestorm, gooi haar eksamensak dat hy doer trek, en kom maak haar tuis op my skoot asof sy ’n 4-jarige-haasbek-pippie-langkous-dogtertjie is, terwyl sy huil dat die snot spat!

Nou-ja, ek het genoem dat sy ook my sprankelende, oor-emosiebelaaide persoonlikheid het? Dit is al ontelbare kere aan my genoem dat ’n normale mens ’n minimum van 10 emosies per dag beleef en ek is nie normaal nie, want ek beleef duisende daagliks. 90% van hulle, brought on myself.

My meisiekind se trane word veroorsaak deur die feit dat haar gunsteling-wiskunde juffrou weggaan na ’n beter werk, beter toekoms.  “Dankie JESUS!” Bid ek weer hardop! Nie oor Juffrou weggaan nie, maar oor die trane daar is oor ’n onskuldige opregte rede, waarmee ek kan saamleef.

So, al troosend en paaiend skop Mamma-mode in. “Gaan trek uit en kom eet!” “Het jul lekker geskryf?” “By wie wil jul gaan speel?”

So begin my Riller-Covid-2020-Desembervakansie.

My lewe… ’n “Playstation 4 Limited Edition Game.” Een van daardie games waar die eerste vyftien levels ’n breeze is. Jy het ’n innerlike stryd met jouself om die remote neer te sit net om toilet toe te gaan. Dan begin die Life expansion ’n ewigheid om vol te laai. Jou jewels het jy in level 8 opgebruik, maar steeds kry jy jouself nie sover om die game te stop nie. So, jy besluit om maar die “Poorman’s Ps4” te download op jou selfoon.  Net vir ingeval jy verveeld is, wi-fi af is, of jou data laag is. Dan het jy darem nog iets om te help om die tyd om te kry op die “Porcelain Scooter.”

Nou dink julle almal seker: “Ag shame ou Sannie Sorry Hol. Kom oor jouself!” Maar dis my opinie.

Ek het myself nog altyd met kos vergelyk. Al die ander vrouens is top Franse geregte wat almal wil eet, maar net 10% van die populasie het die guts om te probeer.  Die gereg lyk dan ook op die ou end soos ’n Dulux-advertensie. So mooi! Jy moet dit hê! Dan kry jy die Franse gereg, eet dit, maar is steeds rasend honger na die tyd.

En dan kom ek in….. Die “Good Old Comfort Food”.  ’n Opregte “Tuisgemaakte Boere Hamburger” met baie kaas, sampioene, avokadopeer, saggebakte eier en baie sous. So baie, dat wanneer jy ’n hap vat, spyt die souse alle kante toe en as, net as, jy ’n ordentlike human is, dan gaan stort jy na die tyd om van die gemors ontslae te raak.

Dis ek! En ek is okay daarmee, because there is order in my chaos!

So hier sit ons in die begin van ’n amper twee maande lange vakansie en ek is veronderstel om dankbaar te wees dat na ons Covid-jaar almal steeds gesond is en my kinders kan nou uiteindelik rus en asemhaal.

Ek is dankbaar, glo my, maar ek “rus” glad nie in daardie dankbaarheid nie!

Ek doen dit wat ek baie goed doen, ek over-think! My kinders is my lewe, ek wil net die beste vir hul gee, maar wat gaan ek met hulle maak? Wat gee ek vir hulle om te eet? Ek meen, ek wat ’n halfnormale human is, is okay as ek ’n koppie koffie gedrink het, maar nie my kinders nie.

Hul eetlus skop mos in overdrive in as hul nie skoolklere aan het nie. Hoe hou ek hul veilig? In ons platelandse dorpie is ons reeds geruk met gesiene mense wat Covid gehad het, mense wat nou nog sukkel met die nagevolge van die virus. Dan sidder ek om te dink aan die mense in ons geliefde dorp wat struggle, waarvan ons nie eens bewus is nie.

Die virus het haarself ’n ruskans gegun (ek sien vir Covid as ’n vrou, want niemand rig soveel skade aan like a women scorned) tot onlangs. 6+ nuwe cases volgens Cyril, in ons omgewing. Is sy terug vir nog? Wie is volgende? Mense, ek weet nie van julle nie, but I am scared out of my wits!

Hoe gaan ons deur dit kom? Waar begin die pad na herstel? Emosioneel? Finansieel? Astronomiese groot feit is dat 98% van ons mense was nie eens stabiel genoeg to begin with nie. Hoe nou gemaak?

Almal van ons het laks geraak! “Ag oo vet, ek het my masker vergeet, nou kan ek nie net gou ’n brood gaan koop nie!”

“Ag Mevrou, dis okay, hardloop gou vinnig in, ons ken jou mos! Staan net ’n ent van die mense af weg, en hou jou hand voor jou mond!”

Rerig!?!?!? Ag nee wat mevrou Covid, kom maar in.  Ons ken jou nou al teen die tyd!

Geskryf deur Landi West.