Ek was my stiefpa se ‘tweede vrou’

Deel hierdie storie / Share this story

*** WAARSKUWING: Nie vir sensitiewe lesers nie.***

Ek was 12 jaar oud toe my stiefpa my die eerste keer verkrag het. Ek sal nooit sy woorde vergeet nie. My ma moes twee werke onderhoud om vir ons te sorg terwyl hy sy tyd by die huis om sit en suip het.

Hy het die een laatmiddag, nadat hy reeds ’n bottel vodka klaargemaak het, my kamer toe geroep en vir my gesê dit is nou tyd om ’n vrou te word. Aangesien my ma so baie werk en nie meer aan sy behoeftes voldoen nie, is dit nou my werk. Ek is nou sy tweede vrou.

Ek het geen idee gehad wat hy daarmee bedoel het nie, maar ek het vinnig uitgevind. Toe hy klaar was, het hy gedreig om my en my ma dood te maak as ek ’n woord daarvan vir enigiemand vertel.

Dit het vir vier jaar so voortgeduur. Elke liewe middag. Ongeag of ek op my menstruasie was of nie.

Ek het met ’n vriendin se ma se hulp skelm voorbehoedpille gekry. Hulle was onder die indruk dat ek seksueel aktief was met ’n kêrel, maar op die ouderdom van 16 het ek nog nooit eers my eerste soen gehad nie. Ek was te bang vir seuns. Wat as een van hulle iets agterkom?

Lewe verander

Ek het ’n jaar na my 16de verjaarsdag wel ’n ou ontmoet. Hy was 18 en het reeds as ’n motortuigkundige gewerk. Ons ontmoeting was per toeval in die supermark. Van daar was ons beste vriende. Hy was my eerste soen. Na drie maande van mekaar skelm sien, het ek hom die waarheid vertel.

Hy het vir ons ’n klein woonstelletjie gehuur en my uit my ouerhuis weggeneem. Ons is vandag al 15 jaar getroud.