Geen internet na maande

KIMBERLEY. – Vir maande lank sien jy op elke hoek en draai ’n gazebo met ywerige verkoopspersone wat nie kan wag om vinnige internet aan jou te verkoop nie.

Een kliënt is egter ongelukkig nadat hy vanaf Oktober af wag vir sy internet en elke keer net verskonings ontvang.

Cassie Carstens sê hy het vandag sy kabel en boksie wat hulle op 30 November geïnstalleer het, teruggeneem. “Hulle het gesê ek sou binne 24 uur na installasie my router ontvang en 24 uur daarna sal daar sein wees en die internet sal werk.”

Carstens het tot op hede nie die router ontvang nie. “Dit is definitief die swakste diens wat ek nog ontvang het.”

Carstens sê ook hy het al die kontrak op die 8ste Oktober onderteken en extra betaal, hy moes extra kostes aangaan om data te koop.

Kayleigh Rossler, woordvoerder van Frogfoot, sê sy het by Vox oor die voorval gepraat, aangesien Carstens se klagte by hulle is. “Ongelukkig het die kliënt sy ONT verwyder en teruggebring na die promo stand en dit daar gelos. Vir Vox om hul router mee te bring en die installasie te voltooi, moet hulle ’n nuwe installasie doen om die Frogfoot-toerusting weer te plaas. Die span prioritiseer dit nou.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *