Gevolge van die pandemie op jou geestesgesondheid

Deel hierdie storie / Share this story

Depressie, angs en selfdood is vandag meer ’n werklikheid as ooit. Die meeste mense sukkel onder normale omstandighede met bogenoemde, maar watter effek het die pandemie op jou psigiese gesondheid?

Die koronavirussiekte en die maatreëls om die pandemie regoor die wêreld te voorkom of te beperk, het baie probleme veroorsaak. Dit het, direk en indirek, die gesondheid van mense, werk en finansiële welstand, privaatheid en burgerlike vryhede, en byna alles wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is, bedreig.  

Een van die belangrikste sielkundige en sosiale gevolge van die koronavirus-pandemie en die beperking daarvan sluit die ontwrigting van sosiale bande in. Meeste mense kon nie hulle familie of vriende besoek nie. Self nie eers wanneer een ernstig siek in die hospitaal was nie. Sommige mense het alleen gesterf, sonder om hulle familie te kon groet.

Dit is nie verbasend nie dat baie tydens die pandemie eensaam en depressief voel. ’n Nuwe studie wys op ’n groot neiging weerspieël in die verslegtende geestesgesondheid in ’n groot deel van die bevolking.

Onthou dat baie mense angstig en depressief tydens die Covid-19-pandemie voel. Dit is normaal om angs en depressie te ervaar. Om vir jouself te sê dat jy nie so moet voel nie, is ongeldig en kan net gevoelens van angs en pyn verhoog. As jy jouself daaraan herinner dat miljoene ander mense regoor die wêreld nuttige maniere probeer kry om hierdie negatiewe gevoelens te hanteer, kan dit jou help om minder alleen te voel.