VRYSTAAT. – Kapt. Dave Eric Wessels (66),’n voormalige soldaat wat met die Honoris Crux- goue medalje vereer is, is vermoor op sy plaas net buite Viljoenskroon, in die Vrystaat, gevind.
Wessels se buurman het na hom gaan soek toe hy vuilspel vermoed het nadat hy opgelet het die kaptein se voertuig is weg.
Brig. Motsantsi Makhele, polisiewoordvoerder vir die Vrystaat, sê die buurman het bloed aan ’n kamermuur gesien deur ’n ruit waarvan die diefwering geknip is. Die polisie is ontbied en hulle het Wessels se liggaam in die spaarkamer aangetref. Daar was glo ’n plastieksak oor sy kop getrek.
“Die slagoffer was vasgebind en het menige steekwonde aan sy kop gehad.”
Die verdagte of verdagtes het met Wessels se wit Toyota Hilux Club Cab gevlug.
Geen verdere inligting is in hierdie stadium beskikbaar nie. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.



