Comrades-wenner skryf outobiografie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Noem in die hardloopgemeenskap die nommer 403 en almal weet dit is Louis Massyn se nommer.

Hierdie Goudvelder, ‘n bekende langafstandatleet in die Noordkaap, se outobiografie, getiteld 403 – The Louis Massyn story, verskyn vroeg volgende jaar.

Dit is ’n deernisvolle verhaal van ’n man met ’n groot hart, met 47 Comrades-medaljes op sy kerfstok.

Die een aspek van hardloop wat hom die meeste vreugde bring, is om ander inspireer en Massyn hoop hierdie boek sal lesers aanmoedig om te strewe om hul drome te verwesenlik.

Die boek word geskryf deur Francois van Zyl, ’n mede-atleet en neem lesers van die eerste beginstreep, tot waar hy vandag is.

Hierdie legende in sy eie reg help en motiveer duisende mense van regoor die wêreld om te strewe om hul eie drome te bewaarheid.

Sy besluit om die Comrades aan te pak, het ontstaan na ’n preek in die Anglikaanse kerk op Odendaalsrus.

Die prediker was die Biskop van Bloemfontein wat ’n Bybelteks gebruik het en dit in sy preek met die Comrades vergelyk het.

“Daar het ek die besluit geneem dat die volgende Comrades gaan deelneem.”

In 1973 het hy vir die eerste keer aan ’n Comrades deelgeneem met ’n nuwe paar tekkies wat R4.99 gekos het.

“Ek hou van hardloop omdat dit ‘n individuele sport is. Almal kan nie wenners wees nie, maar elkeen wat hierdie uitdagende wedloop voltooi is beslis ‘n wenner,” sê Massyn.

Hy het 47 agtereenvolgende Comrades en 44 agtereenvolgens Twee Oseane-marathons voltooi.

 Van Zyl belowe die boek is opreg en vertel nie net oor al die veranderinge oor die jare, die baie kilometers, maar bo alles die durf en menslike deernis.

Hierdie is hopelik nie die einde van ‘n merkwaardige atleet nie, want hy hoop om nog op die toneel te bly so lank as wat sy liggaam dit toelaat.

Hy glo hierdie is ‘n lewe en verhaal wat eenvoudig vertel moes word en hopelik kan ander daarby baat vind.