KIMBERLEY. – Jaco Wilkens (45), eienaar van E and A Protection Services, asook een van sy sekuriteitswagte, wat op 11 Augustus 2020 deur lede van PSIRA in hegtenis geneem is, se saak is op 23 September 2020 weens onreëlmatige inhegtenisname van die rol geskraap.
PSIRA speel polisieman
Wilkens en sy sekuriteitswag is deur die lede self en nie deur die polisie in hegtenis geneem nie. Hulle regte is nie deur ’n polisiebeampte voorgelees nie, maar steeds is hulle vir sewe ure by die Transvaalweg-polisiestasie toegesluit.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie was nie deel van die klopjag nie. Die polisie kon nie verduidelik hoe dit moontlik is dat mense by die selle toegesluit en aangehou word, sonder dat hulle deur die polisie self in hegtenis geneem is.
PSIRA is die regulerende owerheid vir privaat sekuriteitsbedrywe, wat seker maak dat alle partye geregistreer is, die regte opleiding kry en dienste gelewer word.
PSIRA nou stil
FiND iT het navraag by die polisie gedoen oor hoe en hoekom PSIRA-lede mense in hegtenis kan neem, asook hoe dié mense dan toegesluit is. PSIRA het nie tydens die ondersoek op FiND iT se vrae reageer nie. PSIRA het ook glo nie enige samewerking aan die ondersoekbeampte gegee nie.
Siviele eis wag op PSIRA
Wilkens het aan FiND iT gesê sy besigheid kon groot skade ly as gevolge van die onreëlmatige inhegtenisneming. “Ek gaan dit definitief nie hier los nie. PSIRA kan ’n groot siviele eis verwag.”
Wilkens sê dit wil voorkom of net sekere besighede in die dorp geteiken word.



