Cheetahs wen Griekwas in oefenwedstryd

Deel hierdie storie / Share this story

Kimberley. – Die Vrystaat Cheetahs het die Tafel Lager Griekwa-rugbyspan met 40-7 in hul oefenwedstryd op Tafel Lager-park geklop.

Die besoekers het danksy ’n oorvloed balbesit teen rustyd gerieflik met 33-0 voorgeloop.

Ondanks die nederlaag was Scott Mathie, die Poubloues se hoofafrigter, tevrede met die span se vertoning.

Hy sê die span het veral in die eerste helfte min besit gekry. “Ek is bly dat ons die eerste keer aandag aan ons kontakvoorbereiding kon gee.”

“Ons het beslis lesse uit die wedstryd geleer en sal ernstig aandag aan sekere aspekte moet gee.”

Hy sê dit sal tyd neem om die regte kombinasies te kry en daar is beslis ruimte vir verbetering.

Hy glo dat die span sal kan voortbou op hul vertoning in die tweede helfte. Mathie was veral beïndruk met van die nuwelinge se vertoning.

Die groot uitblinkers aan die kant van die besoekers was Roscoe Specman en Frans Steyn.

Dit was ’n uiters opwindende hardloopwedstryd met albei spanne wat die bal laat loop het.

Puntemakers: Vrystaat 40 (drieë: Roscoe Specman, Malcolm Jaer, Frans Steyn, Carel Jan Coetzee, Andisa Ntsika, Louis v.d Westhuizen; doel: Ruan Pienaar 5) Griekwas 7 (drie: Daniel Kasende; doel: Ashlon Davids)