RITCHIE – Bekommerde ouers het vandag ’n stil protes hier voor die primêre skool Kgabang gehou nadat ’n onderwyser glo positief vir Covid-19 getoets het. Die ouers wil hê die skool moet gesluit word vir die res van die jaar en kinders moet eers in 2021 teruggaan.
Revelation Ndumiso, ’n ouer, sê kinders wat in kontak was met die onderwyser is nie gesê om te selfisoleer of te laat toets nie. “Dit is asof hulle nie oor ons kinders omgee nie. Ons as ouers voel dat die skool vir die res van die jaar gesluit moet bly en dat kinders eerder in 2021 vars kan oor begin wanneer die getalle van infeksies afgeplat het.”
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, het vandag bevestig dat Primêre skool Rietvale en Hoërskool Rietvale weens positiewe gevalle gesluit is. “Die skole sal gesluit bly todat die perseel ontsmet is.”



