Kimberliet as LG-topverkoper vir Junie gekies

Deel hierdie storie / Share this story

Alvandré Louw (29), ’n Kimberliet en werknemer by Cell C Newpark, is deur LG as topverkoper vir Junie 2020 aangewys.

Verkoopsman op 14

Alvandré, bekend as Dré, sê hy doen al verkope vandat hy 14 jaar oud is. “Van my eie klein spaza-winkeltjie tot die verkoop van iets en alles by al die skole wat ek bygewoon het.”

“Ek het in 2010 bemarking by Noord-Kaap FE-kollege gestudeer en kon weens finansiële probleme nie my studies voltooi nie. Ek is gedwing om te werk.”

Dré het eers by ’n meubelwinkel gewerk voordat hy in 2013 by Cell C aangesluit het. Hy is in 2015 as winkelbestuurder en in 2016 as interne areabestuurder vir Cell C aangestel.

Familie motiveer

Hy vertel sy familie motiveer hom om ’n sukses te maak. “Die lewe gaan slegs gebeur as jy in jou vermoë glo en dit laat gebeur.”

Topverkoper

“Ek voel nederige en geëerd om op ’n nasionale vlak erkenning te kry. Natuurlik is ons demografie baie klein in vergelyking met ander provinsies. Tog lewer ons steeds ’n groot hoeveelheid verkope. Toewyding en klantediens is die kern van ons besigheid. Jare ervaring in klanteverhoudinge en verkope is ook ’n sterk bydraende faktor.”

Verbiplex ta. Cell C, loop ook al vir die laaste ses maande voor in die Cell C Sales Initiative 2020, wat alles te danke is aan uitstekende kliëntediens.