Duidelike data nodig om skoolgemeenskappe te beskerm

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP.- Aangesien die volgende groep leerlinge na verwagting binnekort na hul skoolbanke sal terugkeer, doen die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap ‘n dringende beroep op die provinsiale regering om gereeld die publiek oor die provinsiale vlakke van skoolgereedheid in te lig.

“Die tyd het aangebreek vir alle lede van die uitvoerende raad om die Noord-Kaap in hul vertroue te neem en eerlik te praat oor die stand van provinsiale skole,” so sê Andrew Louw, LPW, DA Noord-Kaapse provinsiale leier.

Skoolgemeenskappe

“As ouers, as openbare verteenwoordigers, en selfs net as inwoners wie ‘n passie vir die provinsie se toekoms het, wil ons almal graag ons skoolgemeenskappe teen die moontlike gevare van die virus beskerm. Ons het duidelike en geloofwaardighede inligting van die provinsiale regering nodig om as wapen te dien in die voorste linies van die geveg.”

Terselfdertyd

“Ouers word immers gevra om ‘n ongekende risiko met hul gesinne te neem en om die welstand van hul kinders heeltemal aan die provinsiale regering oor te laat. Terselfdertyd gee die provinsiale regering egter bittermin inligting om enige ouer of voog in staat te stel om self ‘n ingeligte besluit te kan neem. Om ons skoolgemeenskappe te beskerm, het ons heelwat meer inligting nodig was wat die terloopse grafiekies of middernagtelike inskrywings op Facebook ons meedeel.”

LUR vir Onderwys

“Die eerste prioriteit is volledige vorderingsverslae van die LUR’e wie onderskeidelik vir onderwys, samewerkende regering, en paaie verantwoordelik is. Die LUR vir Onderwys het aan die einde van Mei aangedui dat die veilige heropening van skole afhang van die suksesvolle voltooiing van 192 infrastruktuurprojekte. Die projekte is daarop gemik om skade te herstel wat tydens die grendelstaat aangerig is of om voldoende water te voorsien. In die 21ste eeu, moes dit in elk geval nooit ‘n wêreldwye pandemie gekos het voordt die regering aandag aan hierdie basiese kwessies skenk nie.”

Kommerwekkende

“Oorsigbesoeke wat DA-lede sedert die begin van Junie afgelê het, skets ‘n prentjie van kommerwekkende watervoorsieningsvlakke in verskillende skoolgemeenskappe. Vanuit Namakwa tot die huidige brandpunte in Pixkley ka Seme en na die verafgeleë streke van John Taolo Gaetsewe, sukkel skole met voldoende watervoorsiening om die nodige sanitasievlakke te handhaaf. Dit is deels te wyte aan katastrofiese rampbestuur van die voortdurende droogte.”

Besorgd oor skole

“Maar dit wil ook voorkom asof ‘n gewetenlose tenderpreneur of twee dalk munt geslaan het uit die paniek van die pandemie. Dit gebeur gereeld dat aflewering van watertenks of die behoorlike volmaak daarvan onnodig sloer. En ons is besorgd oor skole wat aanmeld dat kontrakteurs nie die watertenks aan sentrale loodgieterstelsels gekoppel het nie. Dit bring mee dat die watertenks geen praktiese doel dien nie, maar bloot opgerig is as ‘n monument tot wanbestuur.”

“Ons gaan beslis ondersoek instel na die individuele gevalle waarvan ons reeds weet. En ons sal geen moeite ontsien nie, maar die sterkste moontlike saak bou teen enigiemand wat bronne steel wat ons skoolgemeenskappe moet beskerm.” sê Louw.