Die bykomende uitdagings van die koronavirus-pandemie asook die resessie en die dreigende ekonomiese depressie dra by tot die ellende van die reeds onderpresterende Noord-Kaapse provinsiale regering.
Andrew Louw, provinsiale leier van die DA, sê daar is geen twyfel dat die premier, dr. Zamani Saul, ‘n A+ span benodig om hom te help om die diep waters, waarin die provinsie en die land hom bevind, te navigeer.
“Die DA vrees egter dat die premier homself weereens ingedoen het met sy keuse van sekere kabinetslede.”
“Die DA verwelkom LUR Maruping Lekwene se aanstelling by die gesondheidsdepartement versigtig. Lekwene was redelik bekwaam in die finansiële portefeulje en ons het vertroue in hom. Hy sal miskien kan regkry wat sy voorgangers nie kon doen nie. In hierdie verband kan hy moontlik die nodige verligting aan die gesondheidsdepartement bring. Dit behels beslissende leierskap om die parallelle probleme rakende finansiële wanbestuur en onderpresterende gesondheidsorgdienste aan te pak. Ons wens Lekwene sterkte toe met hierdie baie moeilike taak. Hy het beslis ‘n reusetaak wat voorlê. Die welstand van meer as 100 000 inwoners van hierdie provinsie is van hom afhanklik.”
Die verskuiwing van LUR Mase Manopole, van gesondheid na landbou, is egter kommerwekkend. “Ons is skepties of sy, soos haar voorganger Nomandla Bloem, die nodige ervaring het om die baie belangrike landbousektor te kan ondersteun. Landbou is tans gekonfronteer met die dubbele ramp van die droogte en die pandemie. Die departement van landbou het ‘n kritieke behoefte aan onbevooroordeelde leierskap om te verseker dat alle boere, ongeag hul ras, die steun kry wat hulle benodig om die land se voedselmandjie vol te hou. Ons kan net hoop dat Manopole geskik is om hierdie taak te onderneem.”
Die plasing van nuweling, Desire Finies, in die departement van sport, kuns en kultuur, is vir hul ‘n verrassing. “Finies het nie ervaring as lid van die provinsiale wetgewer nie, en net tyd sal wys of sy oor die nodige bevoegdhede beskik. Alhoewel die meeste van die ander posisies nie ter sprake is nie, is dit interessant dat LUR Bentley Vass en LUR Mac Jack, in in beheer van onderskeidelik samewerkende regering en onderwys gebly het. Terwyl dit lyk asof hulle die steun van die premier het, moet hulle baie meer doen om hul mandate na te kom as hulle die vertroue van die publiek wil wen. Dit is veral nodig in ‘n tyd waneer al hoe meer Noord-Kaapse munisipaliteite in duie stort en kwessies rakende leerderveiligheid toenemend onder die kollig kom soos wat skole weer te midde van die pandemie oopmaak.”
Die groot verrassing is egter die terugkeer van LUR Fufe Makatong aan die provinsiale regering. “Dit is openbare kennis dat sy versuim het om die departement van gesondheid om te draai en dit is twyfelagtig wat sy eintlik tot die provinsiale regering kan bydra.”
“Ongeag wie in die premier se kabinet is, kan ons net hoop dat hulle vinnig aan die werk sal kom. Ons is in ernstige moeilikheid as ‘n land en as ‘n provinsie, en as hulle nie nou optree nie, loop die provinsiale regering die werklike risiko van ‘n absolute ineenstorting, soos wat tans binne Eskom en plaaslike regering gebeur.”



