November 30, 2020

Covid en die queen

Dagsê Jimmi,

Ek voel vandag minder beswaard oor politiek, en seksuele geweld, en oorlog, en sosialisme, en al daai ongediertes. Vandag, my vriend, is ek oor iets anders beswaard. Oor my taal. Ek wil so ‘n bietjie daaroor mymer, soms selfs effe onsamehangend, soos jy terstond sal agter kom.

Wag, wag! Voordat jy soos jy-weet-wie my beskuldig da tek ‘n ou omie met grys skoene is, laat ek dit dadelik regstel – ek is nie ‘n taalbul nie. Ek is nie eens ‘n Blou Bul nie.

En nee, ek is nie koekerig oor Afrikaans nie. Maar te erg is darem te erg.

Soggens, wanneer ek wakker word, is die belangrikste deel van my dag. Dis dan wanneer ek met die regte, of die verkeerde, voet uit die bed opstaan. Dis dan wanneer ‘n koppie koffie regtig saak maak, wanneer my eerste besoek aan die badkamer suksesvol moet wees, wanneer my vrou nie met ‘n frons moet opstaan nie.

Die regte opstaan in die oggend is bepalend vir die trant van die res van die hele dag.

Ek is lief vir my radio, Jimmi. Spesifiek RSG. Ek skakel dit elke oggend aan, langs die koppenent van my bed, selfs terwyl vroulief nog snork. Ek soek klank. Musiek. Geselskap. Stemme. Die nuus. Desibels.

Maar deesdae, wanneer ek soggens my radio op RSG aansit, word ek begroet deur die een ná die ander omroeper (gelukkig nie almal nie) wat van “Couvid-19” praat. Nie “Covid-19” nie, soos dit in Afrikaans hoort–  “o”, soos in “boom”, of “sloop”, of “koop”. Nie “ou” nie, soos in “outjie”, of “koutjie”, of “ge-dope”, Jimmi.

Kan iemand daardie omroepers inlig? ‘n “O” in Afrikaans word nie as “ou” uitgespreeknie.

“Couvid”.

Ek sit sommer die radioaf.

En nee, ek is nie “konserwatief”, politiekgesproke, omdat ek lief is vir Afrikaans nie. (Min mense wat my ken, sal my as “regs” beskryf – nie dat ek aldag weet wat “regs” en “links” deesdae beteken nie.) Maar dis my taal, van moedersknie, saam met moedersmelk, so grootgeword, so begin dink, so begin bid, so begin klavier speel, so begin sport speel, so begin vry, so begin rock, so begin studeer, so begin werk, so begin ouer-wees, so begin ouer-word.

Ek hou daarvan dat die taal “reg” gepraat word – of dit nou Kaaps, Bolands, Noord-Kaaps, Gautengs of Vrystaats is. Verskillende dialekte verryk ‘n taal. Ek sluk egter maar swaar aan ‘n Engelse Afrikaans.

Nee, Jimmi, jy verstaan verkeerd. Ek is nie anti-Engels nie. Die Engelse het ons baie gegee waarvoor ons dankbaar moet wees. Hul taal – ‘n wêreldtaal. Hulle het gehelp om Hitler te verslaan. Rugby het daar begin, en krieket, en sokker, en gholf (wel, eintlik Skotland, maar dis naby genoeg).En baie ander sportsoorte wat daaruit gevloei het, soos hokkie, en yshokkie, en water-polo.

En moenie van die Engelse Ontbyt vergeet nie, of van vis en tjipsnie. Ja, dit kom ook uit Engeland.

Ek het niks teen Engels nie. Maar ‘n Afrikaans geklee in ‘n Engelsestropie, is vir my net tesoet.

Skielik is ek die hel in vir my alma mater. Nee, nie net die Stellenbosch wat destyds die “idee” van apartheid wou bevorder nie, maar ook die Stellenbosch wat deesdae die reg van duisende wit- en bruin-Afrikaanssprekendes misken deur onbeskaamd te verengels en hulle daardeur die regontsê om in hul eie taal te studeer. Want dis mos wat Pappa Beer wil hê.

Die verskoning, so hoor ek, is dat Stellenbosch ‘n wêreldklas universiteit moet wees. Sê hulle daarmee dat ‘n mens nie wêreldklas in Afrikaans kan wees nie, Jimmi?

Ek dink aan Afrikaanse helde soos Breyt en Breytenbach, wat onbeskaamd anti-apartheid en terselfder tyd eweneens onbeskaamd pro-Afrikaans was. Een van vele. (Ja, ja, ek weet “vele” ‘n Nederlandisme. OK, ek is nie altyd konsekwent nie.)

Die vark in die verhaal, wat my betref, se naam was Andries Treurnicht, wat Afrikaans in swart skole wou afdwing. Oom Andries het nie verstaan dat ‘n mensnie ‘n taal kan afdwing nie. Net soos die liefde. Skade, wat kwalik ongedaan gemaak kan word.

In die middel van die Groot Piramide in Egipte, op pad boontoe, hoor ek en my vrou skielik iemand wat Afrikaans praat. My vrou het die man so omhels dat ek later jaloers geword het. Vroeër, in die Plaka, die Ou Stad van Athene, hoor ek mense (twee lugwaardinne, vind ek toe uit) wat Afrikaans praat. Daar in die vreemde. Gelukkig was my vrou nie by nie.

Wat my bring by ‘n ander vrou. Iemand wat ek nie wil ontmoet nie. Die sogenaamde “koningin” van Engeland. Ek sal die tannie se hand nie skud en my knie voor haar nie buig nie – nie voordat sy om verskoning gevra het dat haar regering Engels op ons afgedwing het nie. Van Afrikaans ‘n “kombuistaal” wou maak. En sommer ook askies vra vir die 26 000 grafte van vrouens en kinders oral oor die land. En vir die diamante en die goud wat hulle kom steel het. En vir die grond wat hulle van die swartmense afgevat het. En vir die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika, wat swart mense uit die konstitusie geskryf het. Ja, Jimmi, die Engelse het dit in die Parlement in Londen geskryf. Verbeel jou – apartheid a la Londen.

By my kom vergifnis maklik, maar askies – ek soek eers daardie “askies”.

Intussen was dit darem lekker toe die Springbokke vir Engeland in die eindstryd om die rugby-wêreldbeker vermorsel het. Ek sê maar net, Jimmi. Gun my daardie ekstra lekker kry. Verkneukelenswaardig.

Sit dít in jou mond en kou-dit.

Wederom,

Johan Retief (oftewelOomBoet)

Jy is welkom om saam te stem of te verskil. Skryf na [email protected] as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy gesê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *