NOORD-KAAP – Die polisie in die Noord-Kaap bied ’n beloning van R20 000 vir die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die verdagte of verdagtes wat betrokke was by ’n moord wat onlangs op Douglas gepleeg is.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê Griet Wilson (54), is Donderdag 11 Junie 2020, dood in haar huis gevind. “Haar kêrel (57) het die polisie gebel en hulle het hom met wonde aan sy kop by die paartjie se kothuis in Bongani, Douglas gevind.”
Na bewering is albei deur ’n onbekende man aangeval. Die oorledene het verskeie steekwonde aan haar kop en liggaam opgedoen.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting kan kapt. James Oliphant by 0824954665 skakel. Die ondersoek duur voort.



