Indien die virus hom nie self uitwoed nie, sal die Suid-Afrikaanse regering dit nie regkry om die virus uit te roei nie.
Dus sal die ekonomiese impak wat dit op ’n dorp soos Kimberley het enorm bly. Só sê Charlie Heathcote, finansiële adviseur van Attooh.
“Kimberley se sakesektor het reeds gesukkel voordat die epidemie ons getref het, daarom is die impak wat ons tans beleef sekerlik een van die ergstes in dekades. Negentig persent van alle klein sake moes as gevolg van die inperking hulle deure tydelik sluit. Dit het teweeggebring dat meer as twee-derdes hulle tydelike inkomste verloor het,” sê Heathcote.
“Wat ons ook nie moet vergeet nie, is die ‘wealth vs health’-konsep. Die ouer geslag ‘wealth’ wat al ’n neseier kon opbou sal sekerlik beter daaraan toe wees as die jonger generasie ‘health’, wat uitstaande skuld en skoolgeld het om te betaal.”
Heathcote is ook van mening dat die plaaslike ekonomie nie gou sal herstel nie, indien enigsins. Vir die groot metropole is dit makliker om te stabiliseer en behoort hulle baie vinniger as ’n stad soos byvoorbeeld Kimberley aan die gang te kom.
“Die regering het reeds voor die inperking ’n negatiewe impak op die ekonomie gehad en die vooruitskatting is dat dit nie vinnig beter sal gaan met ons land nie. Alhoewel die gesondheidskwessie ’n groot rol gespeel het in die besluite wat geneem is, kan ek nie anders as om te sê dat dit verkeerd toegepas was nie.”
Heathcote sê jy kan in die plaaslike ekonomie sien hoe die verbruiker onder druk is om minder te spandeer. Elke werknemer en werkgewer sal die pyn vir lank voel.
Istevan Swanepoel, eienaar van Swanepoel-konstruksie, sê hulle was lekker besig voor die inperking en besigheid was relatief goed. Hy het 21 werknemers en hulle almal was negatief geraak. “My werkers word op die 15de van elke maand betaal en vandag was juis ’n besluit of ons krediteure, huur of skoolfonds moes betaal. Dit is hoe drasties die impak op my besigheid is.”
Swanepoel is egter positief oor die toekoms en glo hulle sal maklik van die verliese kan delg indien hulle nou toegelaat kan word om voort te gaan met werk.



