Dagsê Jimmi,
Ek sit nou die anderdag my radio aan – net betyds om na die einde van ‘n uitsending van ‘n rugbywedstryd te luister. So half in my slaap, val ek amper van die bed af. Of het ek straks gedroom?
Dit het só geklink:
“Daar gaan die toeter. Die wedstryd is verby, maar die skrum is reeds gevorm. Dit is die pienkes se laaste kans om reg te maak wat hulle so liederlik verbrou het. Die kans is skraal dat hulle nog die knoop kan deurhaak. Dis nie hulle bal om in te gooi nie, en die skrum is vyf treë van hul eie doellyn af. ‘n Amper hopelose situasie.
“Al wat die rooies nou moet doen, is om hierdie skrum te wen en die bal uit te skop. Kom ons kyk wat gebeur.
“Die manne het gesak vir die belangrikste skrum van die wedstryd. Die skrum wil-wil swaai – maar dan, so wrintie, haak Pravin Gordan die bal! ‘n Vaskop! Daar’s nog ‘n kans vir die pienkes!
“Zweli Mkhize pik die bal agter die skrum op. Hy breek steelkant om. Hy is deur ‘n gaping! En daar trek hy, al langs die kantlyn af!
“Floyd Shivambu probeer hom by die kantlyn uitduik, maar Mkhize kry dit tog reg om die bal binne-toe aan te gee na Jackson Mthembu. En Jackson Mthembu hardloop! Hy is oor die kwartlyn! Hy is op die tientreë-lyn, waar hy vasgevat word deur Nkosazana Dlamini-Zuma. (Wat soek sý op die veld?)
“Sy spook en spartel om die bal by hom af te neem. O aarde, daar trek haar skrumpet, ek meen haar kopdoek, in die proses. ‘n Man sien net hare waai.
“Dan kom die agtsteman van agter af en maak die bal los. Cyril hardloop met die bal asof sy lewe daarvan afhang. Hy word vasgevat op die rooies se kwartlyn, waar al wat speler is indons om met die bal vorendag te probeer kom.
“En dan kom die bal weer uit aan die pienkes se kant! Kan hulle die bykans onmoontlike verrig? Kan hulle die span oor die lyn kry? Dit lyk so! Daar is nou ‘n losgemaal op die rooies se doellyn. Die skeidsregter wil-wil op sy fluitjie blaas, maar dan bedink hy homself.
“En daar trek Cyril, met Aaron Motsoaledi aan sy sy! Hier kom ‘n drie! Cyril beur met al sy krag vorentoe, maar Ace Magashule stuit hom in sy spore. Hy wil die bal uitgee na John Steenhuizen, maar bedink homself op die nippertjie. Hy gee eerder uit na Motsoaledi toe, wat in die hoek wil oorgaan!
Mmusi Maimane, die lynregter, staan gereed om sy vlag op te steek. Maar hy is nou buite die speelveld en hy gaan nie hierdie keer ‘n kans kry om ‘n bydrae te lewer nie.
“Maar die laaste aangee word deur Julius Malema onderskep! Jou werklikwaar! En hy hol! En hy hol! En hy hol! En sy… ek bedoel, hý, hol. Daar is niemand wat hom kan keer nie! Daar is ‘n oop doellyn voor hom! Ebrahim Patel hol agterna, vir ondersteuning, maar Malema skop stof in sy oë! Hy gaan die bal onder Cyril se pale plant! Wat ‘n einde aan ‘n andersins toiingrige wedstryd!
“En daar in die doelgebied staan ‘n reserwe hom en inwag. Ek dag hy’s by Nkandla, maar ek kan sweer dis hy. Ek was seker verkeerd.
“Die pienkes het dit amper gemaak. Maar amper, liewe luisteraar, is nog nie stamper nie.”
Toe sit ek maar my radio af. Die wedstryd was verby.
Ek het nie belanggestel om die kommentaar van die kapteins agterna te hoor nie. Ek wis ook wie Speler van die Wedstryd gaan wees. En wie dit nié gaan wees nie.
So, al wat plaas is, kan nou onteien word. Sonder vergoeding. Die rand is in sy moer, maar wat maak dit nou saak? Al wat student is, kan nou verniet “studeer”. (Kinders by laerskole is vergete.) Die myne en banke, selfs die Reserwebank, word genasionaliseer. Afrikaans word uit die volkslied gehaal. Die Springbok-embleem word begrawe. Media-vryheid is net vir die rooies se kaders beskore. Subsidies vir moeders wat aanhou baar, word verdubbel (en so ook die belasting van hulle wat met wit monopolie-kapitaal boer). Suid-Afrika se beleggingstatus word verder afgegradeer, na ‘n status wat nog nie eens bestaan nie Die ekonomie is op sy knieë, maar so what – sosialisme in al sy glorie neem oor. Lank lewe die revolusie. Dis mos wat die Freedom Charter vra.
O ja, en alkohol en sigarette word sommer ook verbied. Want hulle kan.
Viva, Stalin, viva! Amandla, Mao, amandla!
Jimmi, tot vandag toe weet ek nie of ek daardie dag gedroom het, en of ek dit regtig gehoor het nie. Maar dit bly by my spook.
Wederom,
Johan Retief (oftewel Oom Boet)
Jy is welkom om saam te stem of te verskil. Skryf na [email protected] as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy te sê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.



