KIMBERLEY. – Nadat ’n keisersnit hier op ’n vrou wat glo positief vir die Covid-19 virus getoets het, gedoen is, verseker Kimberley MediClinic sy werknemers en publiek die risiko vir infeksie in die hospitaal is uiters laag.
Werkers bekommerd
Bekommerde werknemers het aan FiND iT gesê hulle is bang om werk toe te gaan, omdat hulle nie behoorlik ingelig is oor die vrou nie en hulle wil verseker wees hulle lewens word nie in gevaar gestel nie
Hospitaal verseker veiligheid
Denise Coetzee, woordvoerder vir MediClinic, sê Mediclinic Kimberley kan met 100 persent sekerheid bevestig dat alle personeel, sowel as die dokters wie kontak met die pasiënt gehad het, ten volle beskermende uitrustings gedra het. “Alle betrokke persone is ook opgelei in die korrekte manier om die uitrustings aan te trek, uit te trek en te berg. Ons volg te alle tye die voorskrifte van die Departement van Gesondheid en die Departement van Arbeid.”
Dokter bedank hospitaal
Coetzee sê die dokter wie die vrou behandel het, het na afloop van die keisersnit die hospitaalbestuur gekontak en bedank vir die professionele wyse waarop die operasie hanteer is.
“Hy noem dat hy baie beïndruk was met die veiligheidsmaatreëls in plek en het op geen stadium onveilig gevoel nie.
“Die veiligheid van personeel, dokters en pasiënte is vir ons so ‘n ernstige saak dat ons selfs ten spyte van al die maatreëls in plek en die dra van beskermende toerusting almal wie in kontak met die pasiënt was vir die volgende twee weke opvolg en moniteer. Die voordeel daarvan is dat ons seker maak ons hospitaal Covid-vry bly en dat ons nie die virus tussen ons staf, dokters en pasiënte versprei nie.”
Hoof ingang gebruik
Die werknemers het aan FiND iT gesê die betrokke persoon het nie die spesiale ingang gebruik nie, maar by die hoofingang ingekom.
Coetzee sê Mediclinic Kimberley en Mediclinic Gariep het talle voorsorgmaatreëls in plek om te verseker die fasiliteite is so veilig as moontlik.
“Toegang tot die hospitaal word streng deur middel van siftingstoetse beheer. Ons vereis ‘n bewys van ‘n negatiewe Covid-resultaat vir alle elektiewe operasies. In ‘n noodgeval waar die pasiënt dringend geopereer moet word en ons nie kan wag vir ‘n negatiewe toetsresultaat nie, word so ‘n pasiënt in ’n toegewysde COVID-teater opereer en hanteer asof hy/sy positief is. Ons het aparte COVID en nie-COVID verwante areas sodat ons met veiligheid na al ons pasiënte kan omsien. Al die personeel en dokters in die hospitaal, dra die nodige beskermende uitrustings, soos verlang deur die area waarin hulle werk.”
Coetzee sê die hospitaal het geen klagtes van enigiemand ontvang oor moontlike blootstelling nie. “Enige persoon, (staf, dokters en pasiënte) wie besorg is dat die beskermende toerusting wat gebruik word nie toepaslik is nie, is welkom om met ons in gesprek te tree. Ons kan die gemeenskap verseker dat die risiko vir infeksie met die Coronavirus in die hospitaal uiters laag is.”
Ma en baba steeds in hospitaal
Die ma en die baba is glo steeds in die hospitaal in ’n afgesonderde area. Dit is nie seker of die baba ook vir Covid-19 getoets gaan word nie.



