Noord-Kaap skolerugby kry groot terugslag

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Vir meeste van die groot skole in die land is rugby vir eers verby. 

Die Covid-19 krisis het nie net die land se ekonomie platgetrek nie, maar skolerugby het ook ’n reuse plettervat gekry.  Met die nasionale rugbytoernooie wat afgelas is, is die kanse maar skraal dat enige skolerugby verder die jaar gespeel sal word.

Die twee top skole in Kimberley, genaamd Hoërskool Diamantveld en Noord-Kaap, sou op 7 Mei 2020 in die jaarlikse “darby” teen mekaar kon kragte meet. 

Meer as 5000 toeskouers kyk jaarliks na die tweestryd en word as die grootste skolewedstryd in die Noord-Kaap beskou, naas die Upingtong vs. Duineveld Interjol.

Leon Karemaker, afrigter van Hoërskool Diamantveld, beskou die inperking as ’n uitsonderlike geval, maar dit maak nie die teleurstelling minder nie.  “Die seuns begin reeds vroeg in die jaar voor te berei en sien uit na hulle jaarlikse toer na Oakdale. Die Wildeklawer-toernooi word hoog aangeslaan en ons is jaarliks die gasheer.  Hierdie geleentheid is nou nie meer vir die seuns beskore nie.” Karemaker noem dat hulle van videogrepe en Whatsapps gebruik maak om hulle spelers fiks te hou.  Daar bestaan wel ’n skrale kans dat die span weer die jaar in aksie sal wees, mits die inperking opgehef word en die skool se beheerliggaam daartoe instem.    

Gerrit Myburg, assistent-afrigter van Noord-Kaap Hoërskool bevestig dat hulle heel waarskynlik nie vir die res van die jaar in aksie sal wees nie. “Op hierdie stadium is ons kinders se veiligheid vir ons belangriker, maar indien die skool so besluit sal ons in aksie wees. Ons span word deur middel van video-analise en boodskappe aangespoor om gekondisioneerd te bly. “Ons is uit die aard van die saak teleurgesteld dat hulle nie in die jaar se Kearsney-paasnaweek toernooi kon deelneem nie. Die Wildeklawer-toernooi is ook ’n hoogtepunt vir elke seun wat die wit trui oor sy kop trek.”

Een van Noord-Kaap se groot kwelpunte is dat hulle jaarliks op borge staatmaak om hulle spanne by te staan en met die inperking het hulle borge ook ’n gulde geleentheid gemis om blootstelling te kry.  Die skool is egter besig om te kyk na alternatiewe oplossings om hulle borge gemoed te kom.

Die enigste ligpunt vir beide van die skole is die skrale troos dat daar dalk ’n Griekwa Cravenweek-span gekies sal word wat teen ander provinsies sal deelneem in voorwedstryde vir die Curriebeker.

Diamantveld het verlede jaar ses Grant Khomo spelers en 6 Cravenweek-spelers opgelewer wat hierdie jaar in aksie kon wees, terwyl Noord-Kaap met drie Grant Khomo en drie Cravenweek spelers gespog het.