Kind deur offisiere gegryp

Deel hierdie storie / Share this story

BALLITO. – Die KwaDukuza-munisipaliteit ondersoek ‘n voorval waar twee van sy vredesoffisiere na bewering hardhandig probeer het om ‘n kind naby Shaka’s Rock in Ballito in hegtenis te neem.

‘n Video van die onderonsie sirkuleer tans op sosiale media. Dit kan hier gesien word:

https://www.facebook.com/finditnuus/videos/1389901867860590/?t=1

Die video vertoon twee offisiere wat deur die hek toegang tot ‘n woonperseel verkry. Een van die offisiere gryp dan die kind. Die kind skreeu terwyl ‘n man, vermoedelik die pa, na die toneel storm.

Die familie het glo die strand besoek binne die tyd waarin oefening toegelaat word en was besig om terug te keer na hul huis.

Die offisiere het toe die man aangehou, terwyl die kind na ‘n groep vrouens op die perseel gevlug het.

Die munisipale woordvoerder, Sipho S. Mkhize, het gesê die munisipaliteit is bewus van die video. “Ons sê uit die staanspoor dat ons teen alle wanpraktyke teen inwoners, veral vroue en kinders, gekant is. Ons stel tans intern ondersoek in na die feite van die saak. Ons neem ook kennis van die gevoelens wat die video ontketen het. Die KwaDukuza- munisipaliteit sal ‘n amptelike verklaring oor die saak uitreik nadat die ondersoek afgehandel is. Intussen doen ons ‘n beroep op kalmte en samewerking in die gemeenskap.”

Ian Cameron, die hoof van AfriForum se eenheid vir gemeenskapsveiligheid, het die video op Twitter vertoon. “Hoe kan sulke gedrag deur enige vredes/polisie-offisier geregverdig word?” het hy gevra.

Melbelwaterbaby het op Twitter gesê sy wil nie langer in ‘n polisiestaat woon wat deur dierlike mense beheer word nie. Jonathan Levin het sy afgryse te kenne gegee. Raadslid Tammy Cole het gesê die offisiere moet onmiddellik geskors word, hangende die uitslag van die ondersoek.