Skote wat klap en brandstigting lei tot dood

Deel hierdie storie / Share this story

Worcester – ’n Voorval op 18 April 2020 by die Roodewal-woonstelle in Worcester het gelei tot ’n man (20) se dood en ’n hut is daarna in ’n informele nedersetting aan die brand gesteek.

Die oorledene, wie se naam nie in hierdie stadium bekend is nie, is na bewering ses keer geskiet.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê na die voorval waar die man geskiet is, het polisie op Sondag 19 April 2020 ’n verdagte in hegtenis geneem. “Die verdagte, ’n manspersoon van 28 jaar oud, is  vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen wat glo met die moord verband hou in hegtenis geneem. Namate die ondersoek vorder, kan die verdagte moontlik nog aanklagte in die gesig staar.”

Plaaslike speurders ondersoek ook die brand wat die hut in die informele nedersetting vernietig het. Die polisie het die ontplooiing in Roodewal verbeter om te verseker daar is geen verdere voorvalle nie.