Grendeltyd het sy uitdagings

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT gesels het Joan Venter (64), skoolhoof van Hoërskool Noord-Kaap, wat hierdie jaar aftree, oor hoe sy die nasionale inperking ervaar.

Hoe hanteer/ ervaar jy die inperking?

“Dit is my laaste jaar in die onderwys en ek het gehoop om van dit ’n hoogtepunt in my onderwysloopbaan te maak. Ongelukkig het dit eerder meer uitdagings daar gestel met die grendeltyd. Dit is vreemde en buitengewone omstandighede waarin ons verkeer.”

“Ons moes skielik ander maniere ondersoek om kontak met ons leerders en ouers te behou en op ’n manier verseker dat onderrig en leer voortgaan. Dit bring uiteraard baie frustrasies, stres en onsekerheid mee. ’n Mens voel skuldig teenoor die leerders en bly voortdurend besin oor wat nog gedoen kan word om dit vir hulle makliker en meer doeltreffend te maak. Intussen probeer ons om steeds finansiële verpligtinge na te kom wanneer skoolgeld, ons primêre bron van inkomste, nie inkom nie.”

“Die skool is blootgestel en pogings tot inbraak moet op allerlei maniere afgeweer word. Skade en uitgawes as gevolg hievan plaas verdere druk op die SBL en skoolbestuur. Vir elke persoon wat die skoolterrein betree, moet ’n permit verkry word.”

“Alle dank en waardering gaan aan die personeel, werkers, die departement, SBL en polisie vir hul ongelooflike ondersteuning en hulp in die moeilike tyd!”

Mis jy die skool en die kinders?

“Absoluut! Ons verwys graag na ons as die groen-familie. Die skool en leerders het werklike familie geword. Die skool en sy leerders is tans die middelpunt van my bestaan en doel in die lewe. Sonder hulle voel ek verlore en doelloos. Ek verlang na hulle en sien reikhalsend uit na die dag wanneer ons weer bymekaar kan wees!.”

Sien jy uit daarna om weer te gaan werk?

“Ja! Ek kan nie wag daarvoor nie, ten spyte van ekstra ure wat opgeoffer sal moet word en al die uitdaging wat daarmee gepaard gaan.”