KIMBERLEY. – Die departement van maatskaplike ontwikkeling gaan môre meer as 1000 kospakkies in Kimberley uitdeel.
Lesego Pule, woordvoerder vir die department, sê gesinne en mense wie die kospakkies ontvang, is deur die departement geïdentifiseer.
Sentrums toe
“Ons het verskeie maniere hoe ons die gesinne en die mense identifiseer. Die sentrums waar dié mense gewoonlik kos ontvang het, soos sopkombuise, is nou gedurende die inperking, toe. Daarom maak ons seker die mense ontvang steeds kos deur kospakkies. Hulle kry dus nou twee keer ’n dag kos.”
Inkomste verloor
Pule sê mense wat los werkies gedoen het en nie nou die vermoeë het om dit te doen nie, ontvang ook kospakkies.
“Daar is ook mense wie kospakkies ontvang vanaf Sassa en ‘n lys van die munisipaliteit. Die mense is ook bygesit en ons gebruik die lys as ‘n omvattende lys.”
Gee inligting deur
“Inwoners en raadslede gee ook vir die departement inligting deur as daar gesinne is wat sukkel. Die mense wat kospakkies ontvang, is mense wat geen inkomste kry nie.”
Pule sê dis belangrik om te onthou mense kan nie net aansoek doen vir kospakkies omdat daar ’n inperking is nie. “Elke geval word deur ons maatskaplike werkers ondersoek en op grond daarvan word daar besluite geneem. Waar ons kan help, daar sal ons help.”



