KIMBERLEY. – ’n Ma van hier is nou op pad om haar 13-jarige dogter in Mosselbaai te gaan haal, nadat sy en haar dogter se pa twee weke gesukkel het om ‘n permit te kry.
Lottie du Toit sê haar dogter, Deoné (13), ’n leerling aan die Laerskool Newton, het vir die vakansie by haar beste maatjie in Mosselbaai gaan kuier. Sy kon nie ‘n permit kry om haar te gaan haal nie.
Sou na vakansie huis toe
“Haar maatjie het Mosselbaai toe getrek en daarom wou sy vir ’n laaste keer by haar gaan kuier. Die aand toe die lockdown aangekondig is, is ek nog nie betaal nie. Ek sou haar na die vakansie gaan haal, wanneer ek betaal word. Ek en sy het gepraat en sy het gesê sy sal eers daar bly. Maar nou raak dit baie lank en die lockdown is vir nog twee weke uitgestel.”
Kon nie by die hof regkom nie
Du Toit sê sy en Deoné se pa is geskei, hy woon op Kathu. “Hy het van daar af ook al probeer om ’n permit te kry om haar te gaan haal. Hy was hof toe, maar is gesê hy moet polisiestasie toe gaan. Hy kon nie daar regkom nie.”
Was self by polisiekantoor
Du Toit sê sy was self gister (Vrydag) by die polisiekantoor in Kimberley. “Ek het gevra vir ’n permit om my kind te gaan haal. Ek is gesê dit kan nie uitgereik word nie, dit werk nie so nie. Ek wil net die wet van die land nakom en nie in hegtenis geneem word as ek oor ’n provinsiale grens gaan nie.”
Sy het gister op die vloer van die polisiekantoor inmekaar gesak van moedeloosheid. “Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek sou Dinsdag weer hof toe gaan. Ek is so dankbaar dat ek en haar pa weer ‘n glimlag op ons dogter se gesiggie kan sien en nie net trane as jy met haar gesels nie. Al waar sy nou wil wees is in haar eie omgewing saam haar familie. Mens tree altyd net op in die beste belang van jou kind.”
Verlange is erg
Bettie Fourie, Deoné se ouma, sê dit was vir haar baie hartseer. “Ek het om probeer om haar moed in te praat, maar dit is moeilik. Sy huil verskriklik oor die telefoon. Ons is ’n hegte familie en wil net bymekaar wees. Sy het gedink dit gaan lekker wees om by die see te kuier en daar kom niks kort nie. Maar sy wil by haar eie huis wees. Sy mis haar mense.”
Hofbevel en ID
Brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het vandag aan FiND iT bevestig du Toit mag haar dogter gaan haal. Hy sê die aangepaste regulasies is baie duidelik oor wat van mense in sulke situasies verwag word. “As sy ’n hofbevel het, tesame met haar ID-dokument, mag sy reis.”



