BLOEMFONTEIN – Twee mense is gistermiddag omstreeks 15:00 ernstig in Bayswater beseer tydens ’n ongeluk met ’n polisiebakkie.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n klag van ’n ongeluk met beserings ontvang. Met hul aankoms op die misdaadtoneel het hulle ’n polisievoertuig, wat erg beskadig is, in die Baysvillage-kompleks gesien. Daar was ook ’n wit Mahindra-bakkie, wat in die ongeluk betrokke was. Die voorkant van die Mahindra is beskadig. Dit het agter die robot in Waverleystraat gestaan.
“Daar was twee slagoffers wat langs die sypaadjie van die Baysvillage-sentrum gelê het. Volgens ooggetuies is albei blykbaar deur die polisievoertuig omgery. Een van die beseerde slagoffers is ’n sekuriteitswag van Bloemsec en die ander slagoffer is ’n vrou. Haar naam en ouderdom is nog nie bekend nie. Albei die slagoffers is in ’n ernstige, maar stabiele toestand na die verskillende hospitale geneem. Die bestuurder van die staatsvoertuig en privaat voertuig het geen sigbare beserings opgedoen nie.”



