Tydens die inperking is daar net soveel waarmee jy jouself kan besig hou. Hoekom nie jou sekslewe opkikker nie?
Hier gee Timothy Kieswetter, seksuoloog, Christelike berader en komediant, sekswenke om jou witwarm te kry.
Pen-en-papier-seks
Die pen is kragtiger as die swaard en wanneer dit by seksualiteit kom, is hierdie gesegde ook van toepassing. Net so belangrik soos wat openbare komplimente vir jou maat is, is die privaat liefdesbriefies wat julle vir mekaar onder die kussing los. Pen-en-papier-seks is om julle liefde, waardering en drome aan mekaar te verklaar. Jy kan vir jou maat ’n gedig skryf, ’n kort verhaal, ’n lied of net een sin uit die diepte van jou hart. Maar wat ook al jy doen, maak ’n woonte om dit gereeld te doen.
- Man: Doen moeite om jou vrou in die openbaar die hof te maak en los gereeld liefdesbriefies op haar kussing.
- Vrou: Maak ’n gewoonte om jou man op te bou en met hom te spog. Maak ’n punt daarvan om opbouende woorde of liefdesnotas in sy aktetas of kosblik te sit.
Masseerseks
Vir baie mans is die woord “voorspel” ’n tipe TV-program en vir vrouens ’n vae droom. Gesonde seks is nie orgasmegedrewe nie. Gesonde seks is nie ’n spray on tan nie, dit is bak in die son. Bak julle in mekaar se liefde, passie en seksualiteit? Of is dit net iets wat julle aframmel?
- Koop masseerolie of selfs babaolie en bederf mekaar met ’n ordentlike vollyfmassering.
- Neem jou tyd om by die seksuele areas uit te kom en wanneer jy daar is, neem jou tyd totdat jou maat krul van plesier.
- Man: Moenie dadelik jou hand op jou vrou se borste of genitalieë plaas nie. Werk jouself stadig maar seker daarheen toe.
- Vrou: Leer jou man wat vir jou lekker is en vir jou werk, praat met hom, stuur hom, plaas sy hand waar jy dit wil hê en maak dan bemoedigende geluide om hom daar te hou.
Ysblokkieseks
In Suid-Afrika is ons geseënd met heerlike warm somers wat dit nodig maak om maniere te vind om af te koel. Hoekom dan nie dieselfde beginsel in julle sekslewe inbring nie? Dit mag dalk na ’n fout klink, want mens wil mos juis dinge in die slaapkamer warm hou! Alhoewel hierdie ysblokkietegniek julle fisies sal afkoel, sal dit die passie in die slaapkamer steeds vuurwarm laat brand.
- Neem beurte om mekaar se lywe te masseer met een ysblokkie op ’n slag.
- Begin by jou maat se nie-erotiese dele en werk die ysblokkie oor die denkbeeldige sensuele hoofweë van sy/haar lyf.
- *Hou aan tot die ysblokkie heeltemal weggesmelt het en dan is dit jou maat se beurt om die ysblokkie op jou lyf rond te stoot.
Stripspeletjies
Rekreasieseks is prettig en genotvol, dis wanneer julle iets nuuts probeer en lag oor mislukkings. Selfbevrediging val ook onder hierdie afdeling. Die fokus hier is meer op jouself, maar sluit nie wedersydse plesier uit nie.
- Kies enige speletjie wat vir julle gaan werk. Gebruik byvoorbeeld ’n pak kaarte, die biljarttafel of skaakbord.
- Die verloorder van elke rondte moet dan ’n kledingstuk uittrek.
- As al julle klere uit is, kan julle na seksuele gunsies oorgaan. Die wenner van die rondte kan dan vra om iets lekkers . . .
Buitelugseks
Somer in Suid-Afrika is altyd lekker en die heerlike warm weer moet gevier word! Hoe langer ’n paartjie getroud is, hoe groter is die kans dat hulle elke keer op dieselfde plek en dieselfde tyd gaan liefdemaak en dat hul liefdeslewe eentonig kan raak.
Deel van gesonde seks is dat jy slegs seks het met die persoon aan wie jy ewige trou beloof het. Om seker te maak dat dit wel so bly, moet julle die tyd, plek en posisie afwissel om seker te maak die liefdesvonke bly spat.
- Kies ’n privaat plek in die buitelug waar julle albei gemaklik sal wees en geniet ’n aand van liefdemaak in die natuur!
- As julle nie hiervoor kans sien nie begin dan met ’n romantiese piekniek.
- Speel voetjie-voetjie, lê op mekaar se skoot, streel mekaar se hare en vry soos verliefde tieners. Solank julle net jul seksualiteit na die buitelug neem!
Jy kan Timothy Kieswetter se e-boek Ontbyt in die bed, seks in die kombuis by http://www.gesondeseks.co.za/shop aflaai vir 52 sekswenke. Die boek is gratis tydens die nasionale inperking.



