KIMBERLEY – SASSA sal maatskaplike toelaes aan ouer persone en persone met gestremdhede vanaf 30 en 31 Maart 2020 betaal. Die ander begunstigdes sal vanaf 1 April 2020 toegang tot hul toelae hê.
In reaksie op die koronavirus wat as nasionale ramp deur president Ramaphosa op 15 Maart 2020 verklaar is, het SASSA met die betrokke belanghebbendes ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan om vroeër betalings te maak. Die rede hiervoor is om ’n opeenhoping in kelinhandelwinkels en ander betaalpunte te voorkom.
Me. Lindiwe Zulu, die minister van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het gesê: “Ons is bewus daarvan dat die gevolge van COVID19 baie moeiliker gevoel sal word deur die kwesbaarste in die samelewing – veral bejaardes, en daarom het ons besluit om vroeër betalings vir ouer persone en persone met gestremdhede te doen, om opeenhoping te vergemaklik. Ek bedank ook sektore – veral die bank- en kleinhandelsektore – vir die samewerking in hierdie verband.”
Begunstigdes van maatskaplike toelaes word aangemoedig om nie hul geld op die eerste dag van betalings te onttrek nie en om gebiede te vermy waar ’n groot aantal mense vir hul eie persoonlike veiligheid byeenl is.



