WILDEKLAWER. – Die Absa Wildeklawer Sport-toernooi, wat jaarliks sorg vir ’n ekonomiese inspuiting van miljoene rande vir Kimberley, is weens die Koronavirus onbepaald uitgestel.
Jannie van der Westhuizen, voorsitter van die Absa Wildeklawer Sport-toernooi, sê die Exco van Absa Wildeklawer Sport respekteer die delikate situasie wat weens die koronavirus onder skole bestaan.
“Ons respekteer die verantwoordelikheid van skole teenoor hulle leerlinge, asook die maatreëls wat deur die regering in plek gestel is om die situasie te beheer.
“Die Exco het gevolglik besluit om die Absa Wildeklawer Sport-toernooie van 2020 onbepaald uit te stel. Die moontlikheid om die toernooie, selfs in ‘n gewysigde of verkorte vorm, later aan te bied, sal ondersoek word. Veral gegewe die ontwrigte of ingekorte sportprogramme van ons skole. Ons kan nou egter reeds bevestig dat die Absa Wildeklawer Sport 2021 wel voortgaan.
“Hierdie besluit is uitsluitlik geneem in die beste belang van alle rolspelers, maar ook in die gees van verantwoordbaarheid teenoor ons land as geheel.”
Van der Westhuizen sê hierdie besluit sal noodwendig ly tot groot teleurstelling en ontwrigting – iets waaroor die Exco baie spyt is.
“Ons sou dit veel anders wou hê. Dit het uit die aard van die saak ook enorme negatiewe ekonomiese implikasies en ander gevolge.
“Ons wens alle skole sterkte toe met hul hantering en bestuur van hierdie onsekere uitdaging. Dit is ons bede dat ons Hemelse Vader Sy hand van genade oor almal sal hou.”
Die afstel van dié toernooi het verrykende gevolge vir die ekonomie van Kimberley, insluitend skole soos Diamantveld Hoërskool en die Laerskool Newton, waar dié toernooi aangebied sou word.
Gastehuise wat vol bespreek is, is nou hulle inkomste kwyt, nadat meeste gastehuise alreeds vanaf verlede jaar vol bespreek is. Verder het dié toernooi ’n inkomste gebied vir skole wat hulle koshuise ontruim en dit uitverhuur, eetplekke wat kon regstaan vir meer as 20 000 besoekers, winkels in die Diamond Pavilion en North Cape Mall wat hulle jaar so beplan rondom die besoekers, borge wat betrokke is by die toernooi en daar sou uitstal, asook toerisme-aantreklikhede in en om Kimberley.
Ontwikkelingspanne se spelers is die ontwikkelingsgeleentheid kwyt. Die superskole se spelers word die geleentheid ontneem om deur ’n groot unie raakgesien te word omdat dit gesien word as een van die prestige-toernooie in Suid-Afrika en een van die grootste skole sporttoernooie in die wêreld.
Dié situasie kom as ’n groot terugslag vir Kimberley en die wyer gemeenskap.



