KIMBERLEY – ’n Motorbattery is gister helder oordag in Avivaweg gesteel. Renthia Brits, wat haar besigheid uit Avivaweg bedryf, sê ’n werknemer se motorbattery is voor die besigheid gesteel.
Volgens Brits het die werknemer haar motor die oggend voor die besigheid gestop. “Sy doen lesse met ons voertuie, so sy was heeldag in en uit die kantoor. Dit is eers gistermiddag na werk wat sy agtergekom het die battery is gesteel.”
Monica Smith, wie se karbattery gesteel is, sê haar kar se enjinkap is nou heeltemal beskadig. “Toe ek gistermiddag na werk my kar wou oopsluit, wou dit nie oopsluit nie. Dit is toe dat ek sien my kar se enjinkap staan effe oop. Iemand het my kar se battery voor die kantoor uit die kar uit gesteel.” Smith sê sy vermoed dat die mense haar kar vir ’n ruk lankal dopgehou het. “Die enjinkap is so beskadig dat dit nie eers meer kan toemaak nie.”
Brits sê daar het ’n vorige keer ’n man aan karre se deurknippe gekarring, maar hy is deur haar en ’n man wat in die straat afgery gekom het, gekonfronteer. Die man het weggehardloop.



