GALESHEWE – Inwoners van Galeshewe is ontsteld oor leë beloftes van lopende water en toiletgeriewe. Die pad in Tysonweg is afgesper met stene, klippe en bosse. Inwoners wag vir die burgemeester om hulle toe te spreek.
Lawrence Mkwanazi, ’n inwoner van die gebied, sê daar word al vir drie maande lank deur die Sol Plaatje-munisipaliteit vir hulle toiletgeriewe en lopende water belowe. Die plakkershutte is in Oktober verlede jaar gebou en steeds is daar geen vordering nie.
Volgens Mkwanazi het, die burgemeester geen belangstelling om hulle toe te spreek nie en het hulle hom tot vanmiddag 17:00 gegee om op te tree. “Indien hy nie opdaag nie, sal ons die stakings tot ’n ander vlak moet vat en begin bande brand. Ons wil dit nie doen nie, want ons het kinders wat ons nie wil ontwrig nie, maar dit is die enigste taal wat die regering verstaan.”
Die stormwaterdreine in die area is ook verstop en water lek uit ’n pyp uit. Die probleem is menige male gerapporteer, maar niks word aan die situasie gedoen nie.
Mkwanazi sê dit is ’n basiese reg om skoon water en toiletgeriewe te hê. “Al wat ons wil hê, is vir die burgemeester om ons te kom toespreek en vir ons te gee wat ons wil hê.”






