KATHU – Vier verdagtes is tydens ’n padblokkade vir die besig van dwelms in hegtenis geneem.
Luidens ’n plasing op die Suid-Afrikaanse polisiediens se Facebook-bladsy, het die Kathu-polisie Dinsdag 7 Januarie 2020 omstreeks 12:00 ’n padversperring op die N14-pad uitgevoer. Tydens die padversperring is ’n voertuig deursoek.
Dwelms gevind
In die voertuig is ses pakkies met 60 bossies Khat, met ’n geraamde straatwaarde van R3 600.00, gevind. Drie verdagtes tussen 18 en 27 jaar oud is in hegtenis geneem en hul voertuig is gekonfiskeer.
Vierde verdagte in hegtenis
Die inhegtenisneming van die drie het dit vir polisielede moontlik gemaak om dwelmverwante inligting by Deben op te volg. By Deben is nog ’n verdagte vir die besit van dwelms in hegtenis geneem, terwyl daar beslag gelê is op 80 bossies Khat met ’n geraamde straatwaarde van R4 800.00.
Alle verdagtes sal binnekort in die landdroshof op Kathu verskyn.





