NOORD- KAAP – ’n Man (65) van Dikgweng buite Mothibistad het omstreeks 06:30 op 27 Desember besef sy dertig skape word vermis. Hy het na die Mothibistad-polisiekantoor gegaan en ’n saak geopen.
Leidraad lei tot arrestasie
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê: “Dieselfde dag het ’n lid van die publiek ’n leidraad gegee dat die skape êrens in ’n kamp gehou word om geslag te word. Na bewering was daar reeds kopers vir die karkasse.”
Na omvattende beplanning het die polisie op dieselfde dag omstreeks 22:00,drie verdagtes met 22 dorper-skape gevang. Die skape is in ’n hoek van ‘n kamp aangehou. Drie messe is ook op die toneel gevind.
22 skape geïdentifiseer
Die waarde van die skape wat herwin is, is R46 000.00. Die man wat die saak by die Mothibistad-polisie aangemeld het, het 22 skape as syne geïdentifiseer.
Die drie verdagtes tussen 26 en 56 jaar oud sal Maandag 30 Desember in die landdroshof in Mothibistad verskyn. Die polisie-ondersoek duur voort.



