KIMBERLEY – Die veld op die hoek van Poole-en Pullingerstraat is nou iets om te aanskou nadat Ockie Fourie, DA-raadslid, van wyk 25, sy vakansie opgeoffer het om probleem-areas van die dorp skoon te maak.
Agteruitgegaan
Fourie sê: “Die veld het al hoe meer agteruitgegaan. Daar het ook na bewering ernstige dwelmhandel daar plaasgevind. Mense het ook die bome in die veld, naby inwoners se huise, as toiletgeriewe gebruik.”
Onveilig
“Die gemeenskap het gereeld gekla oor die veld – van erge drankmisbruik tot groot vure wat gemaak word. Ek het self al ’n paar keer gesien hoe dwelmhandel in die veld gedoen word. Dit is baie sleg vir die gemeenskap. Mense het begin onveilig voel,” sê Fourie.
Versoeke gerig
“Daar is verskeie versoeke aan my gerig. Toe ek toestemming kry om die gebied skoon te maak, het ek dit met albei hande aangegryp en toegesien dat die terrein skoongemaak word.”
“Ongelukkig sien mense dikwels dat iemand rommel in ’n sekere area stort en dan word dit sommer ’n algemene stortingsterrein. Dit sal absoluut wonderlik wees as mense verantwoordelikheid vir hulle eie rommel neem.”
“Die oplossing sal wees as almal in die area verantwoordelikheid neem, selfs ook mense verantwoordbaar hou wat rommel stort waar hulle nie moet stort nie.”
Visie vir Kimberley
“Ek sal graag wil sien dat Kimberley sy ou leuse van ‘a city that sparkles’ terugkry. Al die slaggate reggemaak. Paaie in wonderlike, rybare toestand. Al die ligte werk. Niks stukkende pype of lekkende watermeters nie . Geen rommelstrooiing. Goeie dienslewering,” sê Fourie.







