Gewapende rower in hegtenis geneem

Deel hierdie storie / Share this story

PORT NOLLOTH – Die polisie op Port Nolloth het vanoggend ’n man (30) in verband met ’n saak van gewapende roof in hegtenis geneem.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, sê: “Omstreeks 06:00 het twee verdagtes, gewapen met messe, onmiddellik na die opening van die supermark, die winkel binnegedring. Die rowers het geld geëis en ’n werknemer is gedwing om ’n kluis oop te maak. Die kluis kon nie onmiddellik oopmaak nie en die polisie is gewaarsku. Toe die polisie op die toneel aankom, het een van die rowers probeer om ’n polisiebeampte te steek en is in die skouer geskiet. Die verdagte het probeer vlug en is in hegtenis geneem. Die beseerde verdagte is tans onder polisiebewaking in die Springbok-hospitaal. ‘n Soektog vir die verdagte, wat met leë hande gevlug het, is geloods.”

Enigiemand met inligting word vriendelik versoek om die stasiebevelvoerder van Port Nolloth, lt.-kol. Patrick Moyo, by 082 495 5251 te kontak. Inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word.

Die verdagte sal na verwagting in die landdroshof op Port Nolloth verskyn sodra hy herstel het.

Die polisie-ondersoek duur voort.