RICHARDSBAAI – Nog geen nuwe inligting is ontvang vandat Megan de Lange (nege dae oud) op Donderdag 5 Desember uit haar woning in Richardsbaai ontvoer is nie.
Die man wat Megan na bewering ontvoer het, het haar sonder haar ma se toestemming gevat. Die dogtertjie is laas in ’n pienk frokkie met ’n grys broekie gesien.
“Die enigste manier hoe ons Megan sal kan opspoor, is as hy (die man) vir Megan na die naaste polisiestasie neem en homself oorgee. Ek weet nie of hy sal nie, want hy weet wat dalk op hom kan wag.”
’n Emosionele Jolene de Lange (23) het aan FiND iT gesê sy het nog geen inligting ontvang oor waar Megan is nie. Sy wil net haar baba terughê.
Jolene kon nie aan FiND iT bevestig of die man wat Megan gevat het, Megan se pa is nie. Daar is nog nie DNS-toetse gedoen nie.
“My baba is nog so klein. Ek soek net my babatjie terug.”
Enigiemand met inligting word versoek om asseblief die Richardsbaai-polisie by 035 901 2400 te skakel of Stop Misdaad by 08600 10111.



