Ledemate op strand gevind

Foto: tripadvisor.co.za

PORT ALFRED. – Nóg ’n ledemaat het vanoggend op Shelly-strand hier uitgespoel.

Volgens Netwerk24 se berig is dit die tweede ledemaat wat binne 48 uur uitgespoel het.

Ledemate

“’n Gedeelte van ’n arm met ’n hand is Donderdagoggend op Shelly-strand gevind. Dinsdag het ’n voet in ’n swart Nike-tekkie op dieselfde strand uitgespoel,” word berig.

“Die armbene het geen weefsel daaraan gehad nie, maar die hand het wel nog weefsel gehad. ’n Forensiese ondersoek sal gedoen word om vas te stel of die arm en voet met mekaar verband hou. Die voet is reeds na Pretoria vir ontleding gestuur.”

Vermiste persone

Daar word ook berig dat kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, vroeër die week gesê het die polisie weet nie van enige vermiste persone in die gebied nie, maar sê die voet is naby die gebied gevind waar ’n verdagte vroeër die maand vir die polisie weggehardloop het. “Die man, wat van huisbraak verdink word, het ook ’n polisiehond, Ounooi, met ’n mes gesteek voordat hy die see ingehardloop het.

Familielid

“Sedert die voet Dinsdag op die strand gevind is, het ’n gesin van die Nemato-nedersetting in die dorp na vore gekom en beweer ’n familielid van hulle word al ’n paar weke vermis. Govender sê die gesin het die Nike-tekkie aan die voet as dié van die vermiste man geïdentifiseer, maar DNS-toetse sal bepaal of dit wel dié gesin se familielid is,” berig Netwerk24.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *