KIMBERLEY. – Die gr. 8-leerder (15) wat glo verlede Dinsdag ná skool deur ’n medeleerder verwurg is tydens ’n spelery, is gistermiddag oorlede.
Albei hierdie leerders is in gr. 8 aan die Kimberley Boys’ High.
Koma
Daar word beweer die seun het ná die voorval gesê hy het pyn in sy keel. Hy is toe in die hospitaal opgeneem en was sedertdien in ’n koma.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan FiND iT bevestig die medeleerder (16) is in hegtenis geneem en ’n hofdatum moet nog bevestig word.
Saak van moord
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, het vroeër hierdie week bevestig ’n saak van poging tot moord is geopen. “Volgens die verdagte het hulle gespeel en was dit nie opsetlik nie. Ons kon dit nog nie met die ander seun bevestig nie, want hy was sedert die voorval bewusteloos.”
Ramatseba het egter vanoggend aan FiND iT bevestig die saak van poging tot moord is verander na ’n saak van moord. “Ons kan nog nie die leerder se identiteit bekend maak nie, maar die ondersoek duur steeds voort.”
Skoolhoof
Wilfred Sell, die skoolhoof van dié skool, het die afsterwe van die jong leerder vanoggend aan FiND iT bevestig. “Hy is gistermiddag omstreeks 16:00 oorlede, terwyl hy steeds in ’n koma in die intensiewesorg-eenheid was. Ons kan in hierdie stadium nie meer kommentaar lewer nie.”
Hy sê hy kan ook nie in hierdie stadium bevestig of die skool ’n roudiens vir die leerder gaan hou nie.
Mediese verslag
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê hulle ondersoek steeds die voorval en sal voortgaan met hulle interne proses van dissiplinêre stappe. “Ons wag nog vir ’n mediese verslag om die presiese oorsaak van die dood te bevestig, om vas te stel of hierdie voorval verband hou met die dood van die leerder.”
Hy sê die departement doen ’n beroep op alle leerders om ten alle tye versigtig te wees wanneer hulle speel.
“Ons meegevoel gaan uit aan die gesin in hierdie moeilike tyd,” sê Van der Merwe.
Sensitiewe saak
Lulu Mxekezo, woordvoerder vir die departement van gesondheid, sê hierdie is ’n baie sensitiewe saak en kan nie in hierdie stadium enige kommentaar lewer nie.
Lees die vorige berig hier.



