Man op 20 verskillende aanklagte skuldig

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Randall Hughes (51) is gistermiddag op 20 verskillende aanklagte, waaronder ontvoering, diefstal en verkragting is, skuldig bevind.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê dat die aanklagte van ontvoering, diefstal van motorvoertuie, roof, verkragting en die besit van gesteelde eiendom enkele van die aanklagtes is waarvoor die beskuldigde teregstaan.

“Die beskuldigde het al hierdie misdade tussen 6 April en 28 Junie 2015 in Kimberley gepleeg. Die goue Toyota Corolla wat hy in die pleeg van hierdie misdade gebruik het, is in die Wes-Kaap gesteel.”

Ramatseba sê tydens hierdie verskillende kriminele aktiwiteite het Hughes voorgegee hy is ’n goeie Samaritaan en het vrouens wat ryloop opgelaai met dié voertuig. “Die polisie het tydens ’n soektog op 22 Junie 2015 ’n aantal selfone en persoonlike besittings van klaers by Hughes se huis gevind.”

Die vonnisoplegging is vir volgende maand geskeduleer. Hughes bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.