LYDENBURG. – Kristen en Kayleb Myburgh, ’n vyfjarige tweeling, is deur Jan Benjamin Myburgh (44), hulle pa, ontvoer.
Só sê Mike Bolhuis, van Specialized Security Services. Hulle het inligting dat Jan Benjamin Myburgh die tweeling op 2 November 2019 hier opgelaai het om drie dae saam met hulle te spandeer. “Hy het hulle sedertdien nog nie na hulle grootouers in Lydenburg terugbesorg nie.
“Alle pogings om hom te oorreed om die kinders terug te bring, het misluk en hy het eenvoudig geweier om die kinders terug aan hulle grootouers te besorg.”
Myburgh is laas gesien in ’n wit Opel Corsa-voertuig met ’n onbekende registrasienommer.
“Die laaste bekende adresse vir Myburgh is Primrose, Germiston, Impala Park, Kempton Park en die Boksburg-area.
“Hiermee doen ons ’n beroep op die publiek om alle inligting na vore te bring om die kinders te vind,” sê Bolhuis.
Indien enigiemand inligting het wat die kinders kan help opspoor of waar hulle hulself bevind, kontak asseblief vir Mike by 082 447 6116.





