HARTSWATER. – Die Spar op Hartswater het gisteraand skade gely nadat iemand na bewering ’n stuk karton aan die brand gesteek het. Op ’n video, wat aan FiND iT voorsien is, gooi die persoon die brandende karton in ’n struktuur wat langs Spar staan.
’n Lid van die Hartswater Crime Watch sê die brand het omstreeks 23:00 ontstaan en is eers teen 00:00 geblus. “Ons het bietjie gesukkel om mense te kry om ons te kom help. Die brandweer op Hartswater kon ook nie help nie, omdat die brandweerwaens nog by die werktuigkundige is.”
Brand geblus
Hy sê hulle het brandblussers gebruik tot hulle toegang tot die waentjie, wat gebruik word om brande te blus, kon kry.
“Die wind het genadiglik bedaar, wat ons toe kans gegee het om die brand te blus. Dit was uit-en-uit brandstigting.
“Daar is skade aan die yskaste, omdat van die fans buite begin smelt het.”
Skade
Boeta van Heerden, die eienaar van hierdie Spar, sê daar is nie groot skade aan die Spar self deur die brand aangerig nie.
Die Hartswater-polisie en lede van die Hartswater Crime Watch was op die toneel en het die brand geblus.



